Central SA
Vrou val 40m van krans in Vrystaat naby grens met Lesotho─── HEIDRÈ MALGAS 09:40 Sun, 14 Jul 2024

“Die vrou, ongeveer 30 jaar oud, het van Fouriesburg na die Suid-Afrikaanse grens met Lesotho gevlug.”
Agt lede van die Vrystaat EMS was by ’n reddingspoging betrokke om ’n vrou, wat te voet gevlug en toe ongeveer 40 meter van ’n krans na haar dood geval het, se liggaam op te spoor.
“Die vrou, ongeveer 30 jaar oud, het van Fouriesburg na die Suid-Afrikaanse grens met Lesotho gevlug,” sê Mondli Mvambi, woordvoerder vir die Vrystaatse Departement van Gesondheid.
Die voorval het Vrydag (12/7) gebeur toe agt lede van die EMS, onder leiding van Peter John Visagie, saam met vyf speurders van die SAPD in Bethlehem en vier Bethlehem-buurtwaglede, gewerk het. “Hierdie reddingswerk is uitgevoer deur ’n hommeltuig van die Bethlehem Buurtwag te gebruik om die ligging van die lewelose liggaam op te spoor.”
Dié foto is geneem naby aan die krans waar die vrou afgeval het. Foto verskaf
“Die vasberadenheid om hierdie liggaam op te spoor is ’n professionele mantra van die EMS-personeel wat glo dat alle mense verdien om met waardigheid en sorg van wieg tot graf behandel te word, en dat geen menslike oorblyfsels ooit agtergelaat moet word nie.”
Hy sê hierdie daad van dapperheid sal dit moontlik maak vir die oorledene se familie om haar oorskot met waardigheid te begrawe sodat hulle afsluiting kan vind.
‘Onbaatsugtige toewyding van reddingspan geprys’
Die reddingspoging wat om ongeveer 19:30 begin het, is om ongeveer 01:30 voltooi.
Die Vrystaat se LUR vir Gesondheid, Monyatso Mahlatsi, het die onbaatsugtige toewyding van die gesamentlike operasiespan, wat goed saamgewerk het, ná hierdie suksesvolle reddingspoging geprys.
Die SAPD het begin met die proses van ’n geregtelike ondersoek.