Central SA
Vyf in hof verwag weens diefstal in Vryburg─── HEIDRÈ MALGAS 10:58 Sun, 14 Jul 2024

“Die beskuldigdes, tussen die ouderdomme van 58 en 62, is in hegtenis geneem nadat hulle nie verantwoording kon doen vir die goedere nie.”
Drie vroue en twee mans sal na verwagting Maandag (15/7) weer in die Vryburg Landdroshof verskyn vir die voortsetting van hul borgtogaansoek nadat hulle na bewering goedere ter waarde van R57 870 by verskeie winkels in Vryburg gesteel het.
“Die beskuldigdes is Saterdag (6/7) deur ’n span in hegtenis geneem, bestaande uit Vryburg Misdaadintelligensie, K9 Eenheid en Sigbare Polisiëring, nadat die beskuldigdes se voertuig, ’n silwer Toyota Corolla, dopgehou is weens inligting wat ontvang is. Daar is beweer dat die insittendes glo goedere by verskeie winkels in Vryburg gesteel het,” sê polisie-woordvoerder, Sabata Mokgwabone.
Gesteelde goedere. Foto verskaf
“Die voertuig is gevolglik gestop vir deursoeking. Die polisie het plastieksakke gevind wat nuwe klere, skoene en ander goedere met prysetikette bevat het ter waarde van R57 870. Die beskuldigdes, tussen die ouderdomme van 58 en 62, is in hegtenis geneem nadat hulle nie verantwoording kon doen vir die goedere nie.”
Intussen het die Provinsiale Polisiekommissaris, lt.genl. Sello Kwena, alle eenhede betrokke by die operasie geloof vir hul samewerking en toewyding wat gelei het tot die opsporing en inhegtenisneming van die beskuldigdes.
Verlede jaar in September is die Woolworths by die Waterfront Loch Logan in Bloemfontein beroof. “Soos per sekuriteitsprotokol, is die winkelsentrum se parkeeringange gesluit en die SAPD is gewaarsku.” Toe die verdagtes ná die rooftog probeer ontsnap het, het hulle ’n wag met ’n geweer gedwing om ’n ingang oop te maak.
“Skote is gevuur tussen die verdagtes en die polisie, waartydens een van die polisiemanne en een van die rowers geskiet is. Toe die rowers deur die winkelsentrum probeer ontsnap, het ’n lid van die publiek die polisie probeer help om hulle aan te keer. Hy is lig beseer.”