On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Sentraal-SA skitter in entrepreneurskompetisie vir jongspan

───   HEIDRÈ MALGAS 07:30 Wed, 17 Jul 2024

Sentraal-SA skitter in entrepreneurskompetisie vir jongspan | News Article
Linardo Richter (7) eienaar van 'Braailaaitie'. Foto verskaf

“Ek wil ook eendag my eie restaurant oopmaak en moet nou al geld spaar om dit te doen.”

AfriForum se Besigheidsbytjies-span het die wenners van hul landswye aanlyn entrepreneurskompetisie vir laerskool- en hoërskoolleerders aangekondig, en Sentraal-Suid-Afrika spog met drie uitblinkers.

Elke inskrywing was uniek en besonders, en getuig van die vindingrykheid en harde werk van jong kinders, sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap, wat vol lof is vir hul kreatiwiteit en dapperheid.

Die wenners bied ’n verskeidenheid produkte en dienste aan en voorspel ’n blink toekoms vir jong entrepreneurs in Suid-Afrika.

Braailaaitie’ se items. Foto verskaf.

Linardo Richter (7) van Rustenburg was die wenner van die grondslagfase-kategorie met sy onderneming Braailaaitie. Hy verkoop braaigereedskap.

Richter sê sy inspirasie vir Braailaaitie is Jan Braai. “Ek en my pappa kyk al Jan Braai vandat ek twee jaar oud is. Ek hou baie van braai en kampeer. Ek wil ook eendag my eie restaurant oopmaak en moet nou al geld spaar om dit te doen.”

Richter sê ook dat daar altyd braaigereedskap vir pappas is, maar wat van die jong braaiers? Die sewejarige sê sy gunstelingbraaigereedskap is sy kampemmertjies. Binne-in is alles wat ’n mens nodig het om te kampeer. Hy hou ook baie van sy smore-kits. Dit is kompak en hy kan dit altyd na elke geleentheid saamvat.

Linardo Richter was die wenner van die grondslagfase-kategorie met sy onderneming ‘Braailaaitie’. Hy verkoop braaigereedskap. Foto verskaf.

Richter se gesin help hom om die gereedskap te maak, sommer terwyl hulle braai op ’n Saterdag.

Richter se raad aan ander jong entrepreneurs is: “Begin met ’n besigheid wat by jou pas! As jy daarvan hou, sal ander ook. Begin deelneem aan plaaslike markdae en entrepreneursdae. Dit is hoe ek begin het.”

Elfriede en Paul Schutte (8), ’n tweeling van Potchefstroom, het tweede gekom in die grondslagfase-kategorie met hul onderneming Bielie-Bye. Hulle verkoop tuisgemaakte heuning.

Bielie-Bye heuning Elfriede en Paul Schutte. Foto verskaf.

“Ons oom, oom Hanjo, het begin om met bye te boer. Ons het gehoor hy verkoop groot emmers rou heuning. Dit is baie gesonde heuning. Ons het toe besluit om by hom emmers te koop, dit in botteltjies te sit en dan te verkoop,” sê die tweeling.

Wat hulle die meeste van hul onderneming geniet, is om sakgeld te verdien. Hulle hou ook baie daarvan om heuning per fiets af te lewer.

Die beste terugvoer wat die Schutte-tweeling van ’n klant gekry het, is dat hul heuning altyd lekker is, en gesond is, omdat dit nie deur masjiene verwerk word nie.

“’n Tannie wat al lank by ons heuning koop, het elke dag vir haar hondjies wat longprobleme het, ’n teelepel van ons rou heuning begin gee, omdat die veearts gesê het dit sal help. Vandat hulle die heuning kry, is hulle borsies baie beter,” sê die tweeling.

Tuisgemaakte Bielie-Bye heuning. Foto verskaf.

Tussen 21 Junie en 1 Julie kon die publiek vir hul gunstelingentrepreneur stem, wat 50% van die totale punt tel. Die ander 50% is deur kenners se beoordeling op 5 Julie bepaal. Wenners is in vier kategorieë aangewys.

AfriForum het die Besigheidsbytjies-kompetisie in 2019 vir laerskoolleerders begin en dit uitgebrei na hoërskoolleerders. “Die kwaliteit van inskrywings verbeter jaarliks,” sê Sanderien van der Walt van AfriForum Sakenetwerk. “Kinders besef hoe belangrik ondernemings vir ons ekonomie is. Hierdie kompetisie is nou in sy vyfde jaar.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.