Central SA
Roekelose bestuurder vlug ná ongeluk op Upington─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:21 Wed, 17 Jul 2024
“Na bewering het die twee voertuie Dinsdag (16/7) trompop gebots wat daartoe gelei het dat die een omgeslaan het.”
Die Noord-Kaapse polisie ondersoek ’n saak van roekelose bestuur, nadat twee voertuie op Upington in ’n ongeluk betrokke was.
Na bewering het die twee voertuie Dinsdag (16/7) trompop gebots, wat daartoe gelei het dat die een omgeslaan het, sê Omphile Masegela, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
“Met die polisie se aankoms op die toneel in Rosedale het die bestuurder van die ander voertuig reeds gevlug.” Die nooddienste het een van die bestuurders en ’n kleuter (3) uit die omgeslaande voertuig verwyder, waarna hulle albei hospitaal toe geneem is. Die ondersoek duur voort.
United Towing Association of South Africa sê prosedures moet gevolg word ná ’n ongeluk:
- Skakel die motor af om te verseker dat ’n vonk nie dalk ’n brand veroorsaak nie.
- Skakel noodflikkerligte aan of sit rooi gevaardriehoeke uit om ander motoriste te waarsku oor die ongeluk.
- Moenie die toneel verlaat nie. Bly kalm. Moet nie stry, iemand beskuldig, of enige skuld beken nie. Indien die voertuig nog kan ry, beweeg dit na die skouer van die pad weg van aankomende verkeer. Om die motors in die middel van die pad of besige kruising te laat kan verdere ongelukke en beserings veroorsaak.
- Ontbied mediese bystand. Indien daar enige beserings is, moet nie beseerdes beweeg behalwe as jy mediese kennis of opleiding het om sulke pasiënte te hanteer nie.
- Ruil inligting uit. Ná die ongeluk, ruil die volgende inligting uit met die ander party: naam, adres, telefoonnommer, versekeringsmaatskappy en polisnommer. Indien die bestuurder nie die versekerde is nie, bevestig die verwantskap en skryf die naam en adres neer van alle insittendes. Doen ook ’n skriftelike beskrywing van alle motors betrokke in die ongeluk, insluitende die jaar, vervaardiger, model en kleur, asook die presiese ligging van die die ongeluk en hoe dit gebeur het.
- Dokumenteer die ongeluk. Dokumenteer die skade aan al die voertuie. Indien daar getuies is, probeer om hul besonderhede te verkry; hulle mag dalk behulpsaam wees indien die ander bestuurder verskil met jou weergawe van die ongeluk.
- Meld die ongeluk aan. Hoewel die polisie nie uitkom na ’n ongeluk indien daar nie beserings is nie, moet die bestuurders ’n ongeluksverslag indien by ’n polisiekantoor. So ’n verslag bespoedig soms versekeringseise.
- Wees ingelig oor wat jou versekering dek. Die hele versekeringsproses sal makliker verwerk word indien jy op hoogte is met die inhoud van jou spesifieke versekering. Gaan jou polis gereeld na vir spesifieke details.
OFM Nuus dg/mvh
