On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Oud-Bloemfonteiner reik na Mev. SA-kroon

───   ELSABÉ DE JAGER 10:16 Fri, 19 Jul 2024

Oud-Bloemfonteiner reik na Mev. SA-kroon | News Article
Mev. SA-finalis, Kay-Lee Badenhorst. Foto: Facebook

“Enige vrou kan, hetsy deur haar loopbaan, haar gesinslewe of gemeenskapsbetrokkenheid, ’n aktiewe rol in die samelewing speel.”

Dit is die boodskap van die oud-Bloemfonteiner Kay-Lee Badenhorst (34), wat vroeër vandeesmaand in Emperor’s Palace, Kempton Park, as een van die 30 finaliste in vanjaar se Mev. Suid-Afrika-kompetisie aangewys is. “Ek wil graag ’n stem wees vir vroueregte, selfvertroue bevorder en vroue bystaan om hulself te vier en hul stem te laat hoor.”

Vir dié pragtige finalis, wat lank betrokke was by OFM se advertensieverkope voordat sy twee jaar gelede saam met haar gesin na Pretoria verhuis het, was die glansgeleentheid op 5 Julie ’n ervaring wat haar altyd sal bybly.

‘Dit het die kroon gespan op harde werk’

“Die oomblik toe my naam onder die helder ligte daar in die Theatre of Marcellus aangekondig word, het dit die kroon gespan op dit waarvoor ek sedert die begin van die jaar so hard gewerk het,” sê sy.

Kay-Lee Badenhorst plaas klem op selfontdekking, groei en persoonlike ontwikkeling. Foto: Facebook

Kay-Lee maak geen geheim daarvan dat sy aanvanklik ingeskryf het vir dié kompetisie om haar eie groei as mens ’n hupstoot te gee nie. “Ek is reeds die afgelope ses jaar voltydse tuisteskepper en ma vir my twee jong seuns.

“Hoewel dit vir my ’n groot voorreg is, weet ek ook dat ’n mens jouself so ’n bietjie verloor in die proses. Ek het besluit om vir Mev. SA in te skryf vir selfontdekking, groei en persoonlike ontwikkeling.”

Thys en Kay-Lee Badenhorst en hul seuns. Foto: Facebook

Sy het egter ook spoedig geleer dat die pad wat sy sedert Februarie vanjaar as semifinalis gestap het, ’n veel groter einddoel het. “Ek wil ook ander vroue inspireer om hul volle potensiaal te bereik. Vir geen vrou is dit ooit te laat om haar droom na te jaag nie.”

Sedert haar aanwysing as semifinalis – en nou finalis – het Kay-Lee se droom verder uitgekring. “Ek het opnuut bewus geraak van my groot passie vir kinders. Hierdie wonderlike geleentheid skep ook vir my ’n platform om uit te reik na kinders wat sonder basiese behoeftes soos kos, skoene en geleerdheid deur die lewe moet gaan. Ek sal graag ook hulle omstandighede wil omskep in nuwe hoop.”

Kay-Lee Badenhorst (links) en haar identiese tweelingsuster, Jo-Lee van den Berg. Foto: Facebook

Vir Kay-Lee, wat inderdaad ’n bron van inspirasie vir almal om haar is, sou die laaste paar maande van harde werk voor die finale kroningsplegtigheid in November vanjaar nie moontlik wees sonder die ondersteuning van haar familie nie: “My identiese tweelingsuster, Jo-Lee, staan bankvas agter my in hierdie kompetisie en beskou haarself as my grootste ondersteuner.

“En die drie manne in my gesin laat my elke oomblik spesiaal en mooi voel.”

OFM Nuus/Elsabé de Jager cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.