Central SA
Kimberley-soldaat ter ruste gelê ná Orkney-tragedie─── 11:19 Sun, 21 Jul 2024
“Al vier soldate word met militêre eerbewyse begrawe.”
Een van die vier soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), wat vroeër vandeesmaand tragies aan koolstofmonoksiedvergiftiging gesterf het in Orkney, Noordwes, is Saterdag in Kimberley ter ruste gelê.
Die SANW het gesê al vier soldate word met militêre eerbewyse begrawe.
Media Release || 19 July 2024 || Funeral Arrangements of The Four South African National Defence Force Members Who Lost Their Lives in a Tragic Carbon Monoxide Incident in Orkney, North West Province at the Beginning of July 2024.#SANDF#JointOperationsDivision#RIPSASoldiers pic.twitter.com/8e63jmXa2d
— SA National Defence Force (@SANDF_ZA) July 19, 2024
Die soldate is vir ’n 24-uur-skof by Skag 3, ’n dormante mynskag in Orkney, naby die ongebruikte Harry Oppenheimer-stadion, ontplooi om ’n ongebruikte myn te bewaak as deel van Operasie Vala Umgodi, wat daarop gemik is om onwettige mynbou te bekamp.
Die liggame van Mthunzi Patrick Nzukela (56), Lindelani Mbongwa (42), Magudu Sydwell Manganyi (55) en Le-Roy Thapelo Mpolokeng (34) is Saterdagoggend (6/7) ontdek.
Siphiwe Dlamini, waarnemende SANW-woordvoerder, het gesê die lede is dood gevind in ’n houerstruktuur wat as ’n waghuis gebruik is. Hulle het geen beserings gehad nie en hul gewere en persoonlike besittings was steeds by hulle.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ’n geregtelike doodsondersoek begin nadat hulle vermoedelik weens koolstofmonoksiedvergiftiging dood is. Die soldate het na bewering ’n vuur gemaak het om hulself warm te hou tydens ysige weer in Noordwes.
Volgens The Daily Maverick het die nasionale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sandu), Pikkie Greeff, gesê hoewel die besonderhede rondom die sterftes steeds min is, is die weermag moontlik aanspreeklik.
“Een van die grootste kwessies in die weermag, is die voortdurende tekort aan [toerusting]. As hulle nie toegerus was nie en hulle was onder die bevel van die SANW aan diens, skep dit ’n mate van aanspreeklikheid vir die weermag.
‘Het hulle ’n radio gehad, en indien nie, hoekom nie?’
“Dit lyk vir my hulle is eers ontdek toe die nuwe groep wagte opgedaag het, wat beteken die hele skof het verbygegaan sonder dat iemand gewonder het waar hierdie ouens is, of hoekom ons nie van hulle hoor nie. Dit lei dus tot twee vrae: Het hulle in werklikheid ’n radio gehad, en as hulle nie het nie, hoekom nie? Want dit is beslis standaardprosedure,” het Greeff gesê.
Simphiwe Dlamini, nasionale woordvoerder van die SANW, kon teen tyd van publikasie nie deur The Daily Maverick vir kommentaar bereik word nie.
OFM Nuus cg
