On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse polisie vra hulp ná moord in Tweedelaan

───   HEIDRÈ MALGAS 11:16 Mon, 22 Jul 2024

Bloemfonteinse polisie vra hulp ná moord in Tweedelaan | News Article
Die liggaam is Maandagoggend ontdek in die parkeerterrein oorkant ’n ry kuierplekke. Foto verskaf

“Die slagoffer in sy dertigs het ’n noodlottige snywond onder sy ken opgedoen, sowel as ernstige aanrandingswonde aan sy gesig en kop.”

Die lewelose liggaam van ’n man is in die vroeë oggendure van Maandag (22/7) in die gewilde Bloemfonteinse kuierstraat Tweedelaan ontdek.

“Die liggaam is in die oop parkeerterrein tussen Kellner- en Zastronstraat, oorkant verskeie kuierplekke, gevind,” sê Thabo Covane, polisiewoordvoerder.

Parkweg-polisie doen ’n beroep op die publiek om die moordsaak te help oplos. “Die slagoffer in sy 30’s het ’n noodlottige snywond onder sy ken opgedoen, sowel as ernstige aanrandingswonde aan sy gesig en kop.”

Ten tyde van sy ontdekking, het die man lemmetjiegroen tekkies, ’n swart oefenbroek en ’n veelkleurige kappietop gedra.

Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die saak op te los en tot die inhegtenisneming van die verdagte(s) kan lei, om na vore te kom. Die gemeenskap word aangemoedig om kapt. Sabata Jafta Moseme direk te kontak by 082 526 2713. So nie kan wenke ingedien word deur die MySAPS-app of deur Stop Misdaad by 08600 10 111 te bel.

In 2022, is ’n liggaam ook in die oop area gevind.

OFM Nuus het destyds berig oor die liggaam van ’n man wat gevind is. Hy was ongeveer 35 jaar oud. Die man het ’n vaal trui en bokserbroek gedra en sy liggaam was met ’n duvet toegemaak. Hy het brandwonde aan sy bene en kneusplekke aan sy gesig gehad. Nooddienste is ontbied en hulle het die man dood verklaar.

’n Karwag wat destyds in die oop veld oorkant die kuierplekke gewerk het, het gesê dat dit moontlik ’n geveg was wat nie goed geëindig het nie. “Waar die oorledene gevind is, is die plek waar ’n groep haweloses bly. 

“Ek dink daar kon ’n geveg tussen hulle gewees het. Hulle baklei gewoonlik oor dwelms of as gevolg van bendes,” het die karwag gesê, wat anoniem wou bly.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.