Central SA
Magersfontein se Burgermonument skoongemaak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:44 Wed, 31 Jul 2024
“Dit is prysenswaardig dat AfriForum se Kimberley-tak die verantwoordelikheid aanvaar het om hierdie geskiedkundige baken in stand te hou en te bewaar.”
Vrywilligers het ingespring en die Burgermonument by Magersfontein in die Noord-Kaap skoongemaak. Dié poging verseker die gedenkteken se bewaring en terrein se instandhouding, sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum-Karoo-distrikskoördineerder.
AfriForum se Kimberley-tak het Saterdag (27/7) in samewerking met die Rapportryerbeweging, die Voortrekkers, Landsdiens en inwoners die taak aangepak om die Burgermonument sowat 25 km suid van Kimberley skoon te maak.
“Die span wat bestaan het uit 28 vrywilligers, het rommel by die monument opgetel, onkruid verwyder, gras gesny en bome gesnoei. Ná drie uur se werk het die span ses sakke rommel bymekaargemaak en weggery.”

Vrywillers het hul moue opgerol om die omgewing van die Burgermonument skoon te maak. Foto verskaf
Die gedenkteken is vroeër vanjaar ook deur die tak en vrywilligers skoonmaak, toe kranse neergelê is. Volgens Van der Linden bring die projek nie net hulde aan die verlede nie, maar dien ook as ’n herinnering oor die belangrikheid van die behoud van Afrikanererfenis.
“Die deelname van soveel verskillende groepe en gemeenskapslede weerspieël ’n kollektiewe verbintenis om eerbied te betoon aan diegene wat hul lewe tydens die Slag van Magersfontein opgeoffer het.”
Die Burgermonument herdenk diegene wat tydens die Slag van Magersfontein op 11 Desember 1899 gesneuwel het – presies twee maande ná die begin van die Anglo-Boereoorlog. Die Boere het ’n beslissende oorwinning oor die Kakies behaal.

Sowat 28 vrywilligers het met die opruiming gehelp. Foto verskaf
Ongeveer duisend Britse soldate is in dié veldslag dood of gewond. Die terrein is ook die finale rusplek van verskeie dapper individue uit uiteenlopende agtergronde, onder wie Adriaan de la Rey, die oudste seun van genl. J.H. de la Rey, ’n Franse kolonel, vrywilligers van Skandinawië, ’n Britse soldaat en ’n verpleegster net bekend as Combrink.
“Dit is prysenswaardig dat AfriForum se Kimberley-tak die verantwoordelikheid aanvaar het om hierdie geskiedkundige baken in stand te hou en te bewaar. AfriForum sien uit om in die toekoms hande te vat met gemeenskappe en nog só inisiatiewe van stapel te stuur,” sê Van der Linden.
OFM Nuus/Charné van der Merwe dg
