On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Ál meer hekmotors in Bloemfontein kry voete

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:30 Thu, 01 Aug 2024

Ál meer hekmotors in Bloemfontein kry voete | News Article
Foto: Securicor

“Daar is ’n florerende swartmark waar hekmotors en onderdele verkoop word.”

Bloemfonteiners gaan gebuk onder ’n vlaag diefstalle van hekmotors.

Die kommerwekkende tendens van 30 hekmotors wat binne ’n maand gesteel is, lei tot groter kommer oor eiendomsveiligheid en die bestaan van ’n swartmark vir gesteelde hekmotoronderdele, sê Charnel Hattingh, Fidelity ADT se kommunikasie-en-bemarkingshoof.

‘Gesteelde hekmotors word afgebreek en as onderdele verkoop’

“Voorvalle vind gewoonlik tussen middernag en 05:00 plaas. Daar is ’n florerende swartmark waar hekmotors en onderdele verkoop word. Sommige hekmotors se batterye word gesteel en ander word van elektriese komponente gestroop.

“Gesteelde hekmotors word óf afgebreek en as onderdele verkoop, óf as eenhede deur hierdie [diewe] aan niksvermoedende huiseienaars verkoop.”

Volgens Hattingh is ’n huis se elektriese hek die eerste laag beskerming teen misdadigers. Sy moedig inwoners aan om waarskuwingstelsels aan te bring, soos elektriese omheining en ’n laserstraalstelsel in die tuin, wat bewapende sekuriteitsdienste in kennis sal stel.

“Dit maak dit moeiliker vir misdadigers om jou perseel te betree,” sê sy.

Hattingh gee huiseienaars die volgende wenke om hul hekmotors teen diefstal te beveilig:

  • Maak seker dat die hekmotor ’n staalomhulsel het wat deurgaans gesluit is. Mense wat hekmotors steel, druk dikwels hul hande tussendeur die metaalstawe van die hek en skakel die outomatiese funksie af, waarna hulle die hek kan oopskuif en die motor steel.
  • Maak seker dat jy ’n goeie slot gebruik wat diefbestand is. Kies ’n slot wat deur versekeraars aanbeveel word.
  • Bring die regte soort beskerming aan sodat die rak wat die hekmotor beskerm, nie opgelig kan word nie.
  • Kombineer meganiese toestelle om diefstal te voorkom met tradisionele hekmotorkaste met elektroniese apparate, wat jou kan waarsku as iemand met die hekmotor peuter.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.