Central SA
Lewensmaat aangekla ná regter sterf in motorongeluk─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:44 Tue, 06 Aug 2024
“Mmelesi sal op 20 Augustus sy eerste verskyning in die streekhof maak.”
’n Regter se lewensmaat word van strafbare manslag aangekla, nadat ’n noodlottige ongeluk haar lewe eis het.
David Mmelesi het Maandag (6/8) in die landdroshof op Barkly-Wes verskyn op aanklagte van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur, of onverskillige bestuur, sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder.
“Mmelesi word nou vervolg ná ’n noodlottige ongeluk wat gelei het tot die dood van Yvonne Mokgoro, ’n voormalige regter van die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika.”
‘Mokgoro was ’n passasier in die motor’
Mmelesi sal op 20 Augustus sy eerste verskyning in die streekhof maak.
Die ongeluk het in April 2023 tussen Warrenton en Kimberley plaasgevind. Mokgoro was ’n passasier in die motor en Mmelesi die bestuurder.
Volgens Senokoatsane het Mokgoro beswyk aan haar beserings en verskeie gesondheidskomplikasies wat in die ongeluk op 9 Mei 2023 opgedoen is.

Die begrafnisbrief van Yvonne Mokgoro. Foto: X
Mokgoro is deur oudpres. Nelson Mandela as die eerste swart vroueregter in 1994 in die Konstitusionele Hof aangestel waar sy 15 jaar gedien het.
Benewens haar regterlike loopbaan was Mokgoro ’n aktiewe lid van die International Women’s Association in Washington, die International Association of Women Judges, en die South African Association for Women Lawyers.
Mokgoro is van Galeshewe naby Kimberley en het in 1970 aan die plaaslike Hoërskool St Boniface gematrikuleer.

Yvonne Mokgoro. Foto: Avusa
Sy het deeltyds gestudeer en haar B.A. in die Regte (B.luris) in 1982 aan die Universiteit van Bophuthatswana (nou die NWU) verwerf. Twee jaar later het sy haar B.A. in die Regte (LL.B.) gekry en haar M.A. in die Regte (LL.M.) in 1987 voltooi.
Sy het ook aan die Universiteit van Pennsilvanië in die VSA studeer, waar ’n tweede LL.M.-graad in 1990 aan haar toegeken is.
Sy het haar werkservaring as ’n verpleegassistent en later as ’n kleinhandelverkoper begin voor haar aanstelling as ’n klerk in die Departement van Justisie van die destydse Bophuthatswana. Nadat sy haar LL.B.-graad voltooi het, is sy as onderhoudsbeampte en staatsaanklaer in die destydse Mmabatho-landdroshof aangestel.
OFM Nuus mvh
