Central SA
Veiling kan Bloemfonteinse vlieënier met uitgawes ná ongeluk help─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:28 Thu, 08 Aug 2024
“Griesel is tans in die intensiewesorgeenheid by Mediclinic Bloemfontein met erge kop- en gesigbeserings.”
Van die opbrengste op ’n Vrystaatse wildsveiling gaan aan ’n Bloemfonteinse helikoptervlieënier geskenk word nadat hy ernstig beseer is.
Errol Griesel (30) het Donderdag (1/8) beserings opgedoen tydens ’n fratsongeluk terwyl hy gehelp het met ’n wildvangoperasie by Jagersfontein, vertel Schalk van Zyl, ’n vriend. “Ons vermoed een van die helikopterlemme het hom in die gesig getref toe die helikopter die grond tref.”

Errol Griesel (30). Foto verskaf
Griesel is tans in die intensiewesorgeenheid in Mediclinic Bloemfontein met erge kop- en gesigbeserings. Ondanks die omstandighede het Griesel tekens van herstel getoon toe hy Woensdag (7/8) die eerste keer sy bewussyn herwin het, sê Van Zyl.
’n Geldinsameling, wat Maandag (5/8) in die Amanzi-wildreservaat naby Brandfort begin het, sal tot Saterdag (10/8) voortduur.
Die geleentheid is gereël deur Schalk van Zyl Wildlife Services en HPJ Chopper Worx.

Jagpakkette en wildskenkings sal opgeveil word. Foto verskaf
Tydens hierdie geleentheid sal jagpakkette en wildskenkings deur Schalk van Zyl Wilddienste, Helicom Wildlife Services en Amanzi Private Game Reserve opgeveil word om Griesel te ondersteun.
“Dit is vir die mediese uitgawes wat sy versekering nie dek nie, asook enige ander onvoorsiene koste wat uit die ongeluk kan voortspruit. Die ingesamelde fondse word aan Vleissentraal betaal, wat dan die geld aan hom oorplaas,” sê Van Zyl.
In ’n ander voorval is Hannes Pieterse (50), ’n inwoner van Bloemfontein, Woensdag (7/8) oorlede nadat hy op 27 Julie in ’n motorfietsongeluk betrokke was.
Pieterse het 20 ribfrakture opgedoen en was sedertdien in ’n waakeenheid in die stad. Die bestuurder van die motor wat hom getref het, het weggejaag.

Errol Griesel (30). Foto verskaf
Pieterse het in 2017 ’n valskermongeluk oorleef nadat hy sy nek en twaalf ribbes gebreek het. Sy linkerbeen was ook op vier plekke gebreek.
“Teen Donderdagoggend (8/8) is geen verdagte al aangekeer vir Pieterse se dood nie,” het lt.kol. Thabo Covane gesê.
