On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorpse kankerlyer: ‘Dans lekker in die hemel, ons vegterballerina’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:34 Thu, 08 Aug 2024

Klerksdorpse kankerlyer: ‘Dans lekker in die hemel, ons vegterballerina’ | News Article
Dominique Prinsloo. Foto: Bidvest McCarthy Ford

“Dominique het net voor haar dood teruggekeer huis toe en haar spraak teruggekry, maar sy het aan haar regtersy verlam gebly, was nie in staat om te loop nie en was tot haar bed beperk.”

Die kankerlyertjie (11) vir wie onlangs geld ingesamel is, word Maandag (12/8) vanuit die Môrester-gemeente in Klerksdorp begrawe.

Dominique Prinsloo, by wie terminale longkanker in November 2023 gediagnoseer is, is volgens haar ma, Corene Prinsloo, Dinsdag (6/8) oorlede. “Dominique het Maandagaand (5/8) in ’n koma verval en nooit wakker geword nie. Die kanker was maar die hoofoorsaak van haar dood.”

‘Die situasie het egter drasties vererger toe sy bloed begin hoes’

Op 25 Julie, tydens die Shoprite Checkers OFM Chip 4 Charity-geleentheid in samewerking met Round Table, is meer as R300 000 vir Dominique en Voetlig Bediening op Orkney, Noordwes, ingesamel.

“In November 2023, het Dominique begin hoes, wat aanvanklik na ’n normale hoes gelyk het. Die situasie het egter drasties vererger toe sy bloed begin hoes,” vertel Corene.

Haar ouers het met haar na die hospitaal gehaas, waar hulle enkele dae later die verpletterende tyding gekry het: Kanker is in albei Dominique se longe gediagnoseer.

Meer as R300 000 is ingesamel vir Dominique en Voetlig Bediening op Orkney, Noordwes. Foto: OFM

Regdeur Desember 2023 het die Prinsloo-gesin ontelbare ure in die Baragwanath-hospitaal deurgebring terwyl Dominique ’n reeks toetse en behandelings ondergaan het. “Van daardie stadium af het ons weeklikse reise van Klerksdorp na die Baragwanath-hospitaal onderneem.

“Weens die erns van haar toestand het Dominique op ’n suurstofmasjien staatgemaak om asem te haal. Sy het aanvanklik ’n tweedehandse AirSep AS095 FreeStyle Oxygen-masjien gehad, maar weens haar verslegtende toestand het sy dringend ’n nuwe een nodig gehad. Die koste van ’n nuwe masjien was egter ’n verbysterende R55 000,” vertel Corene.

Op 22 Maart is ’n spesiale liefdadigheidsgholfdag gehou om geld in te samel vir ’n nuwe suurstofmasjien vir Dominique. “Deur die genade van God en die sukses van die liefdadigheidsgholfdag, het Dominique die suurstofmasjien ontvang wat sy broodnodig gehad het,” het ’n dankbare Corene vroëer vertel.

Maar die gesin se finansiële uitdagings het nie daar geëindig nie. Dominique se voortdurende mediese behoeftes en gepaardgaande koste het ’n ondenkbare las op die gesin geplaas aangesien hulle daarna gestreef het om haar so gesond en gemaklik moontlik te hou.

Volgens Corene het Dominique ’n terugslag ervaar ná die liefdadigheidsgholfdag. “Sy het middel Mei twee weke van palliatiewe bestraling in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg ondergaan. ’n Week ná haar laaste bestralingsbehandeling het Dominique ’n beroerte gehad. Sy is weer in die hospitaal opgeneem, was erg verswak, nie in staat om te praat nie en aan die regterkant van haar lyf verlam.”

Dominique het net voor haar dood teruggekeer huis toe en haar spraak teruggekry, maar sy het aan haar regtersy verlam gebly, kon nie loop nie en aan haar bed gekluister. “Boonop het Dominique weeklikse besoeke van ’n fisioterapeut en ’n arbeidsterapeut vereis, wat haar by die huis besoek het, al het dit ook ’n prys gekos.”

Corene vra almal wat die begrafnis bywoon, moet helder kleure dra om Dominique se lewe te vier. “Dans lekker in die hemel, ons vegterballerina.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.