Central SA
Noordwes: Brand onder beheer wat deur kragdrade veroorsaak is─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:11 Mon, 12 Aug 2024

“Boere het wel ernstige verliese gely toe die brand die meeste of al hul voer vernietig het.”
Sondag (11/8) se brand in die JB Marks-gebied in Noordwes is nou onder beheer.
“Verskeie binnebrande is nog nie geblus nie, maar dit is hoofsaaklik gekonsentreer in bloekombosse en rondom boomstompe wat nog smeul,” sê Eric Stoch, voorsitter van die Noordwes-sambreelbrandbeskermingsvereniging (NWSBV).
Die brand het Saterdag uitgebreek nadat die wind veroorsaak het dat kragdrade aan mekaar geraak het. Sondag het die wind weer die brand laat opvlam. "Dit het van wes na oos op die R54 en N12 gebrand,” sê Stoch.
Die brand is onder beheer. Foto: NWSBV
Een van die belangrikste aspekte van brandbestryding is om te verseker dat die brande nie opvlam nie. Stoch beklemtoon die belangrikheid daarvan om die brandweer dadelik in kennis te stel indien die brand weer opvlam sodat dit vinnig bestuur kan word. “Sodra jy ’n vonk, vlam of rook sien, meld dit vroegtydig aan.”
Boere het wel ernstige verliese gely toe die brand die meeste of al hul voer vernietig het. “Mense kan gerus voer skenk om die boere in nood te help,” sê Stoch.
Brande moet behoorlik bestuur word. Foto: NWSBV
Hy bedank alle rolspelers, insluitend die Potchefstroomse Brandweervereniging, Potchefstroomse brandweerdienste en die Working on Fire-spanne vir hul vinnige reaksie om verdere verlies van eiendom en diere te voorkom.
“Die Working on Fire-lugondersteuning was absoluut fantasties op die brandlyn en het gehelp om te keer dat die brand na die Vredefort-koepel versprei,” sê Stoch.
Hy het ook Cyril Louw van die Departement van Visserye, Bosbou en Omgewingsake geloof wat ’n deurslaggewende rol gespeel het om die gebruik van lugsteun te magtig.
Van die boere het al hul veevoer verloor en benodig dringend hulp. Foto verskaf
Stoch het sy dankbaarheid teenoor die Departement van Landbou uitgespreek vir bystand. “Ek kan in hierdie stadium net rapporteer dat een bussie uitgebrand het. Ek is nie bewus van enige ander beserings aan diere of mense, of van enige verlies aan infrastruktuur of huise in die area nie.”
“Veldbrande, ook bekend as bosbrande, kom algemeen voor in Suid-Afrika veral in die droë seisoen van Mei tot Oktober in die noorde en November tot April in die suide,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis.
“Hierdie brande kan natuurlik ontstaan weens weerlig maar word dikwels veroorsaak deur ongemagtigde brande, onbewaakte kampvure, sigaretstompies, sweiswerk en kwaadwillige of misdadige optrede.”
Veldbrande kom algemeen in Suid-Afrika voor. Foto verskaf
AfriForum waarsku die noorde van die land is baie droog wat dit besonder kwesbaar maak. Dit sluit in die Noord- en Oos-Kaap, die Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal.
AfriForum raai mense aan om belangrike dokumente in ’n vuurvaste kluis te bêre, asook om digitale kopieë daarvan te maak.
Cooks sê veldbrande kan vinnig versprei. Vlamme kan hoogtes van 5 m tot 15 m bereik en ’n snelheid van meer as 4 km/h. “Hierdie brande hou ernstige risiko’s in vir eiendom, mense en diere.”
Soms word velde doelbewus aan die brand gesteek. Foto verskaf
Stropers wat ’n veldbrand veroorsaak om diere in ’n bepaalde rigting te dwing, is volgens AfriForum ’n nuwe tendens wat sy kop uitsteek. “Honde word dan losgelaat om hierdie diere in die spesifieke rigting aan te jaag wat dit makliker maak vir die jagter om die diere te jag.
“Nog ’n oorsaak van veldbrande is asgate waarin vullis gebrand word, terwyl ander oorsake selfs kwaadwillig kan wees,” sê Cooks.