On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

DBV Bloemfontein kort dringend hondekos ná hy talle diere red

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:30 Thu, 15 Aug 2024

DBV Bloemfontein kort dringend hondekos ná hy talle diere red | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

“Hondepille elke dag laat die honger wag.”

Bloemfontein se DBV is bekommerd oor sy kritiek lae voorraad hondekos nadat beamptes ’n aansienlike getal honde van die strate af gered het.

Die vereniging is hoofsaaklik afhanklik van skenkings en vra die publiek moet help om viervoetiges se lewe veral nou draagliker te maak.

“Die Bloemfonteinse gemeenskap het nog altyd hul hart oopgemaak,” sê Werner Botha, Bloemfonteinse DBV-inspekteur. “Ons reeds kwynende voorraad hondekos het ’n kritieke laagtepunt bereik.”

Foto ter illustrasie: iStock

Hy sê die DBV kan wel bekostig om die diere te onderhou, maar dit plaas aansienlike druk op hul begroting, geld wat andersins vir mediese sorg, vervoer en logistieke ondersteuning gebruik kon word.

“Ons versoek weer nederig hulp van barmhartige Samaritane om enige hondekos wat hulle kan, te skenk. Finansiële bydraes word ook opreg waardeer. Selfs ’n skenking van net R20 maak ’n verskil, wat ons help om ons deure oop te hou en ons inspektoraat operasioneel te hou,” verduidelik Botha.

Hierdie geld is lewensbelangrik, veral vir die brandstof vir hul voertuie, wat noodsaaklik is vir wanneer hulle op noodgevalle soos brande reageer.

Foto ter illustrasie: iStock

Boonop merk Botha op dat speelgoed ook altyd in groot aanvraag is. “Items soos balle en toue is noodsaaklik vir die stimulasie van ons diere, wat help om gedragskwessies te voorkom wat in ’n hokomgewing kan ontwikkel.”

Botha sê openbare ondersteuning is die ruggraat van enige dierebeskermingsvereniging. “Ons moedig die gemeenskap aan om hul plaaslike DBV te ondersteun, wat ons in staat stel om voort te gaan om die gemeenskap sowel as diere in nood te dien.”

Mense kan op verskeie maniere ’n bydrae lewer. “Skenkings kan direk by die DBV by McGregorstraat 25, Ooseinde, Bloemfontein, afgelewer word. Hondekos kan ook op Takealot.com gekoop word, met die afleweringsadres gestel aan die Bloemfontein DBV.”

Skenkings kan afgehaal word

Daar kan ook reëlings getref word vir die afhaal met hul kantoorpersoneel, wat by 051-447-3801 bereik kan word.

Andersins kan diegene wat verkies om ’n direkte finansiële bydrae te maak, die DBV kontak om die nodige bankrekeningbesonderhede te bekom.

“Hondepille elke dag laat die honger wag,” sê Botha.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.