On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Plaaswerker dood, talle beseer nadat veldbrande in Noordwes weer opvlam

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:01 Fri, 16 Aug 2024

Plaaswerker dood, talle beseer nadat veldbrande in Noordwes weer opvlam | News Article
Die bakkie waarin die plaaswerker en boer gebrand het. Foto verskaf

“Verskeie plaaswerkers is in hul huis deur vlamme verswelg en het brandwonde opgedoen.”

’n Behoeftebepaling is dringend nodig nadat duisende hektaar en ’n groot getal vee in die slag gebly het in veldbrande in Noordwes.

’n Plaaswerker is dood en talle ander is beseer in ’n verwoestende brand wat Sondag (11/8) weer opgevlam het sowat 15 km noord van Parys, halfpad tussen Potchefstroom en Vanderbijlpark.

Die eerste brand het Donderdag (8/8) omstreeks 12:00 naby die Lindequesdrift-kruising op die R500 ontstaan nadat ’n tarentaal in vanghokke gevang en toe in die veld gebraai is, vermoed Sarel van der Walt, voorvalbevelvoerder van die Potchefstroomse en Vaal Eden-brandvereniging se Oproepgroep 6. “Sowat 40 voertuie en honderd mense het die vlamme bestry, wat uiteindelik omstreeks 19:00 onder beheer gebring is.”

Dele van die veld wat verwoes is. Foto verskaf

Gedurende die brand het ’n bakkie met ’n boer en ’n plaaswerker aan die brand geslaan. “Die plaaswerker het sy lewe verloor, terwyl die boer met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem is, sê Van der Walt. “Hy is steeds in die hospitaal en reageer goed op behandeling.”

Intussen het nog ’n veldbrand Saterdag (10/8) tussen Fochville en Potchefstroom ontstaan nadat Eskom-kabels verstrengel geraak het weens sterk wind. “Dié brand het egter Sondag weer opgevlam weens voortgesette sterk wind (en) van wes na oos langs die R54 en N12 gebrand.”

Dié brand is Sondagaand laat grotendeels geblus, maar dit het Maandagoggend (12/8) op verskeie plekke opgevlam. Volgens Van der Walt is duisende hektaar vernietig en het talle vee in die brand omgekom.

Die brand het ook van die plaaswerkers se huise verwoes. Foto verskaf

“Die situasie is vererger deur uiters sterk wind, wat in ’n stadium tot 55 km/h bereik het. Ongelukkig lyk dit of ons sowat 10 000 tot 12 000 ha [se weiveld verloor het.”

Hy het die dringendheid beklemtoon om ’n behoeftebepaling uit te voer om te bepaal waar bystand die meeste benodig word in die geaffekteerde gebiede.

Die bakkie wat gebrand het. Foto verskaf

Hoewel die presiese omvang van die skade nie teen Maandagoggend volledig bepaal kon word nie, was dit reeds duidelik dat boere te kampe het met ernstige voertekorte vir meer as 1 500 beeste en skape. Benewens die verlies aan vee en weiding was daar ook strukturele skade aan geboue, lyndrade en voertuie.

“Verskeie plaaswerkers is in hul huis deur vlamme verswelg en het brandwonde opgedoen. Die meeste is reeds Dinsdag (13/8) ontslaan, behalwe twee werkers, van wie een steeds behandeling in ’n Potchefstroomse hospitaal ontvang, terwyl die ander in ’n hospitaal op Carletonville is,” sê Van der Walt.

Talle diere is dood en beseer in die brand. Foto verskaf

’n Boerseun, wat inderhaas die plaaswerkers te hulp gesnel het wat tydens Sondag se brand in hul huis vasgekeer was, het ook brandwonde opgedoen en is Donderdag (15/8) ontslaan.

Boere van Noordwes en Gauteng, insluitend Roepgroep 6, die Rooikat-groep, en Working on Fire-grondspanne van Potchefstroom, het onvermoeid teen die brand geveg. Lede van die Working on Fire-span van Parys het ook met Donderdag se brand gehelp, terwyl die Working on Fire-helikopter Sondag binne ’n halfuur opgedaag het om hulp te verleen.

Volgens Van der Walt is die brande op die oomblik onder beheer. “Ons betuig ons hartlike dank aan almal wat bygedra het en ons gedurende hierdie beproewing ondersteun het.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.