On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Verkragting: Verdagte (82) van Petrusburg se saak uitgestel

───   HEIDRÈ MALGAS 15:08 Fri, 16 Aug 2024

Verkragting: Verdagte (82) van Petrusburg se saak uitgestel | News Article
Verkragting is traumaties vir elke slagoffer. Foto: SAPD

“Die agtjarige meisie het na bewering aan haar maats vertel dat sy gereeld die verdagte se huis besoek en nagte daar deurbring.”

Die saak teen die bejaarde verdagte van Petrusburg wat van die vermeende verkragting van ’n agtjarige meisie beskuldig word, is uitgestel tot 22 Augustus. Die uitstel bied ie 82-jarige man kans om sy formele borgtogaansoek voort te sit. 

“Die bewerings het in Julie op ’n skoolvergadering wat deur die slagoffer, ’n laerskoolleerling, bygewoon is, na vore gekom,” sê Sinah Mpakane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

“Verslae toon een van die meisie se ouers het ’n onderwyser in kennis gestel van die ontstellende stellings wat die jong slagoffer gemaak het.”

‘Die gemeenskap is aangemoedig om saam met hulle hierdie misdade te bekamp’

Sy sê die meisie het na bewering met haar maats gedeel dat sy gereeld die verdagte se huis besoek en nagte daar deurbring.

“Ná die onthulling is die voorval vinnig aan die owerheid gerapporteer. Die verdagte is daarna in hegtenis geneem en die saak is oorgeplaas na die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdade op Jacobsdal. Hierdie gespesialiseerde eenheid sal verdere ondersoeke in die saak lei.” Die beskuldigde bly in aanhouding tot die uitslag van die borgtogaansoek.

OFM Nuus het berig die Vrystaatse polisie het met kommer kennis geneem van die getal verkragtingsake wat by verskeie polisiekantore in die provinsie aangemeld word en het die gemeenskap aangemoedig om saam met hulle hierdie misdade te bekamp.

‘Verkragting is ’n traumatiese ervaring wat slagoffers in ’n toestand van skok laat’

Die polisie se misdaadstatistieke vir die derde kwartaal van 2023/2024 dui op ’n 6,9%-toename in die getal aangemelde verkragtingsake in die Vrystaat. Intussen het die Noordwes ’n toename van 12,9% getoon teenoor die tweede kwartaal. 

“Die kommerwekkende toename in voorvalle waar vroue verkrag word terwyl hulle onder die invloed van drank of ander middels is, is ’n bekommernis vir die polisie in die Vrystaat,” sê Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

“Verkragting is ’n traumatiese ervaring en die trauma kan slagoffers in ’n toestand van skok of ontkenning laat wat dit moeilik maak vir hulle om die misdaad onmiddellik of ooit aan te meld. Hulle mag ook vrees vir hertraumatisering deur die aanmeldingsproses en daaropvolgende regstappe,” sê dr. Madelein Nortjé, ENGO Vrystaat se gesinsorgdirekteur.

OFM Nuus dg/mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.