Central SA
Broer van Noordwes-tiener met vuurwapen steeds vermis─── HEIDRÈ MALGAS 10:18 Sun, 18 Aug 2024
“Die leerder het die vuurwapen skool toe geneem, en ná ’n oproep van die skoolhoof is hy in hegtenis geneem.”
Die broer van die leerder (15) wat in hegtenis geneem is nadat hy met ’n vuurwapen in sy besit betrap is, word steeds vermis. Die vuurwapen behoort glo aan die vermiste broer.
“Die Klipgat-polisie in Noordwes het die 15-jarige Woensdag (14/8) in hegtenis geneem nadat hy met ’n vuurwapen en ses koeëls aangekeer is,” sê Amanda Funani, polisiewoordvoerder.
Die leerder het die vuurwapen skool toe geneem, en ná ’n oproep van die skoolhoof is hy in hegtenis geneem. Hy het toe verklaar dat die vuurwapen aan sy broer behoort, wat sedert daardie dag vermis word.
‘Ouers en vuurwapeneienaars moet hul vuurwapens veilig bewaar’
’n Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die vuurwapen op 11 Julie by Mabopane in Gauteng as gesteel aangemeld is.
Die minderjarige is Donderdag (15/8) deur maatskaplike werkers beoordeel en onder sy ouers se sorg geplaas. Intussen is die polisie steeds op soek na die leerder se broer. Die seun sal Woensdag (21/8) voor die Ga-Rankuwa-kinderhof verskyn.
Die distrikskommissaris van Bojanala Platinum-subdistrik 1, genl.maj. Modisagaarekwe Mosimanegape, het ouers en vuurwapeneienaars versoek om nie hul vuurwapens veilig te bewaar, aangesien dit ’n gevaar vir die gemeenskap kan inhou.
