Central SA
Verlate motor bly vir eers op Bloemfonteinse lughawe─── ZENANDE MPAME 12:02 Mon, 19 Aug 2024
“Die uitslag van die regsproses sal die finale besluit bepaal of ACSA die voertuig gaan verkoop om die skuld te delg.”
Die verlate motor wat die afgelope tien jaar op die Bram Fischer-lughawe buite Bloemfontein geparkeer is, staan steeds daar terwyl die regsproses nog nie afgehandel is nie.
Mense het in Maart vanjaar op sosiale media bespiegel oor hoe lank die verlate Volvo S40 al op die lughawe geparkeer is.
Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het destyds beweer die motor is “betyds” opgemerk en daarom is met die interne bestuursprosesse begin. “Die uitslag van die regsproses sal die finale besluit bepaal of Acsa die voertuig sal verkoop om die agterstallige parkeergeld te delg,” sê Thea Govindsamy, woordvoerder.

Dié verlate motor staan steeds tien jaar later by die Bram Fischer-lughawe. Foto: Zenande Mpame
“Ons weet steeds nie waarom die motor daar gelos is nie. Lughawens is openbare ruimtes met uiteenlopende verkeer en aktiwiteite. Verlate voertuie is wêreldwyd niks buitengewoons nie, maar die verwydering kan tydrowend wees weens regsprosedures en protokol.”
Acsa het die saak in April aan die polisie oorhandig. Hulle het bevestig die man wat in Lesotho gewerk en dit op die lughawe gelos het, het na China verhuis. Die motor het nie nommerplate of ’n lisensieskyf nie.
“Die Chinese burger is gekontak en by navraag oor die motor het hy gesê hy stel nie meer daarin belang nie,” sê Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
“Dit is nagegaan en nóg die voertuig, nóg die eienaar word met enige misdaad verbind. Die saak is na Acsa terugverwys om ’n finale besluit te neem.”
Netwerk24 het berig dit is waarskynlik beter vir die eienaar om die voertuig af te skryf aangesien die parkeergeld wat oor die tien jaar meer as R250 000 kan beloop, tien keer meer is as die motor se huidige markwaarde.

