On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein se geliefde waterspesialis oorlede

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 05:34 Tue, 20 Aug 2024

Bloemfontein se geliefde waterspesialis oorlede | News Article
Wyle DA-raadslid Rossouw Botes. Foto: Facebook

“Sy onwrikbare toewyding aan die staatsdiens was duidelik in elke rol wat hy onderneem het.”

‘n Jare lange DA-raadslid van Bloemfontein is oorlede.

Rossouw Botes (65) het geruime tyd probleme met sy hart ervaar, sê Werner Horn, parlementslid en provinsiale DA-voorsitter.

Botes het in Junie aan OFM Nuus vertel dat hy ná 16 jaar as DA-wykraadslid groet weens gesondheidsredes nadat hy die voorafgaande twaalf maande twee keer in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad was waar hy ’n groot hartoperasie ondergaan het.

Botes het wyk 25 (Fichardtpark en Pellissier) in die metroraad verteenwoordig. In 2015 is hy aangewys as die beste raadslid in die Vrystaat.

Hy was vier dekades ’n aktiewe lidmaat van die NG Gemeente Pellissier en het twaalf jaar as hoofdiaken gedien. Botes was ook agt jaar lank beheerliggaamlid van die Laerskool President Brand in Pellissier, waar hy as voorsitter van die ouerkomitee opgetree het en ses jaar die Spar in dié woonbuurt besit het.

Rossouw Botes, toe hy in 2015 as beste raadslid in die Vrystaat aangewys is, saam met Patricia Kopane en Helen Zille. Foto verskaf 

In Augustus verlede jaar het hy die elfde persoon geword by wie ’n LVAD-toestel (linkerventrikulêre hulptoestel) ingeplant is.

Volgens Horn was Botes nie net ’n verteenwoordiger nie, maar ’n mentor, leier en steunpilaar in sy gemeenskap. “Sy onwrikbare toewyding aan staatsdiens was duidelik in elke rol wat hy onderneem het. Van sy vroeë dae in plaaslike regering tot sy ampstermyn as ’n Mangaung-raadslid was Rossouw konsekwent verbind tot die beginsels van deursigtigheid, aanspreeklikheid en om die openbare belang te dien.”

Rossouw was dwarsdeur sy loopbaan bekend vir sy vermoë om na die bekommernisse van die mense te luister en dit met beide empatie en daad aan te spreek, sê Horn. “Hy het diep geglo in die waardes van die DA en het onvermoeid gewerk om te verseker dat hierdie waardes weerspieël word in elke besluit wat geneem word vir die verbetering van die gemeenskap.”

Botes het die laaste twee maande voor sy afsterwe ‘n nuwe hoofstuk in sy politieke loopbaan betree toe hy as proporsionele raadslid verantwoordelikheid aanvaar het vir toesig oor dienslewering binne die DA-koukus, insluitend die bestuur van waterwese en ander noodsaaklike dienste in die Mangaung-metro.

Horn sê ter ere van Rossouw se nagedagtenis verbind die DA hom daartoe om sy werk voort te sit met dieselfde passie en toewyding as wat hy geïllustreer het. “Ons sal verseker dat die inisiatiewe wat hy bepleit het, nie onvoltooid gelaat word nie, veral sy strewe om openbare dienste en gemeenskapsontwikkeling in Mangaung te verbeter.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mc/cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.