Central SA
Semifinalis van Kimberley in Mev. Heelal Suid-Afrika wil voorbeeld wees─── ZENANDE MPAME 06:00 Thu, 22 Aug 2024
“Vroue moet hul eie behoeftes erken en prioritiseer te midde van alle verantwoordelikhede wat hulle hanteer.”
’n Semifinalis in die Mev. Heelal Suid-Afrika 2025-kompetisie wil vroue wys dat bemagtiging binne bereik is en dat ’n mens as ’n ma enigiets kan bereik.
Charné Cronjé bestuur die grootste Facebook-ondersteuningsgroep vir ma’s in Suid-Afrika, Mammas 24/7, met meer as 148 000 volgers. Sy is ook ’n berader, lewensafrigter, eggenote en ma.
Sy vertel dis nie vir haar moeilik om soveel ysters in die vuur te hê nie. “Ek is so gewoond daaraan om baie hard te werk. Dit kom natuurlik vir my. Ek moet heeltyd besig bly, en Mev. Heelal SA het dieselfde verwagtinge van jou.

Charné Cronjé bestuur die grootste Facebook-ondersteuningsgroep vir ma’s in Suid-Afrika. Foto: Facebook/Charné Cronjé
“Jy moet heeltyd gemeenskapsprojekte bywoon, jy moet mediawerk doen en jy moet borgskappe kry, en dit is alles wat ek alreeds doen met my Mammas 24/7-platform. So ek dink dit gaan hand aan hand.”
Sy vertel toe sy swanger was met haar dogter, het sy op Facebook gesoek na ’n gemeenskap vir ma’s. Dis toe sy afgekom het op Mammas 24/7 deel van dié gemeenskap geword het.
‘Verlede jaar het ek my Meestersgraad in Christelike berading verwerf’
“’n Jaar later was ek die admin en het die blad gebou tot waar dit vandag is met 140 000 volgers. Dié blad het my geïnspireer om groter en groter te gaan. Verlede jaar het ek my Meestersgraad in Christelike berading verwerf en vanjaar werk ek aan my Ph.D.”
Die ma van twee verduidelik mammas stuur hul boodskappe op Messenger aan die Facebook-blad. Cronjé plaas dit vir hulle en die res van die gemeenskap antwoord. Dis ’n spanpoging van al die lede.

Cronjé se klein familie, haar man Rudi en kinders Makayla en Kayden. Foto: Facebook/Charné Cronjé
“Ons kry baie vrae op die bladsy, ongeveer 20 tot 40 per dag, en ek gaan deur hulle elkeen, redigeer en maak seker hulle is op standaard vir die blad,” verduidelik sy.
Cronjé geniet dit om besig te bly en nie te wonder wat haar volgende projek gaan wees of wat sy volgende gaan aanpak nie. “So dit is vir my ongelooflike lekker werk en ek kan nie sê daar’s rêrig soveel uitdagings nie.
“Ek dink my grootste uitdaging is selfvertroue, want ek is gewoond daaraan om agter die skerms te werk,” vertel sy oor haar sukses met die blad. “So nou dat ek myself voor moet sit, is dit vir my die grootste uitdaging, want met Mammas 24/7 plaas ek nie baie goed van myself nie.”
Daar is baie vrae op die Facebook-bladsy, ongeveer 20 tot 40 per dag. Foto: Facebook
Cronjé sê sy het op die ingewing van die oomblik vir Mev. Heelal Suid-Afrika ingeskryf: Sy het dit nie beplan nie en sy het nooit voorheen enige belangstelling in kompetisies getoon nie.
Maar noudat die bal aan die rol is, geniet sy dit terdeë. “Wat ek doen, is waar my passie is en dit is waar ek net vroue kan bemagtig en inspireer. Dit voel net vir my waar ek nou is, is presies waar ek moet wees.”
‘Dan sal die tyd vir ’n rukkie stilstaan’
Die kompetisie het wel haar selfvertroue ’n broodnodige hupstoot gegee. “Ek moes dit nie aanleer nie. Dit het net sommer vanself gekom, want ek het begin (met die kompetisie) sonder selfvertroue, en nou het ek so baie selfvertroue dat ek nie eers weet hoe ek dit gekry het nie.”
Cronjé vertel dis vir haar heerlik om ’n droom uit te leef. “Wanneer jy ’n droom in jou hart het en jy is op die regte pad en jy streef na die dinge wat saak maak, dan sal die tyd vir ’n rukkie stilstaan, sodat jy enigiets en alles kan bereik wat jy wil doen.

Die finaliste vir Mev. Heelal Suid-Afrika word op Saterdag 7 September in Sandton aangekondig. Foto: Zenande Mpame
“My hele doel, hoe ek graag vroue wil bemagtig en inspireer, is om te wys dit maak nie saak wie jy is of wat jy doen nie, jy kan enigiets nastreef wat op jou hart geplaas is dit.
“Ek is ’n ma van twee kinders. Ek is ’n vrou, ek is ’n sake-eienaar van twee besighede. Wat ek wil doen, is om ’n voorbeeld te wees van wat jy kan wees, jy kan ’n ma, vrou, ’n meervoudige besigheidseienaar wees, en jy kan selfs ’n kompetisie inskryf terwyl jy al hierdie dinge doen,” meen Cronjé.
Die finaliste vir Mev. Heelal Suid-Afrika word op Saterdag 7 September in Sandton aangekondig, en die wenner word na verwagting in Februarie gekroon.

