On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaters moet beskerm word teen hemelhoë kragverhogings

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:43 Fri, 23 Aug 2024

Vrystaters moet beskerm word teen hemelhoë kragverhogings | News Article
Die hoofingang na Centlec, Mangaung se kragvoorsiener. Foto verskaf

“Ingevolge die hofbevel in die aansoek van AfriForum teen Nersa in Junie vanjaar, mag net Letsemeng, Setsoto, Nketoana, Tswelopele, Moqhaka, Mohokare en Centlec in Mangaung hoër kragtariewe vir die huidige boekjaar hef.”

Vrystaatse munisipaliteite wat onwettig kragtariefverhogings ingestel het, moet aandui of hulle stappe gaan doen om inwoners te vergoed vir die onwettige nuwe tariewe.

Die VF Plus het vrae by alle Vrystaatse munisipaliteite ingedien sodat die munisipaliteite wat teen die sperdatum nie aan die tersaaklike regulasies voldoen het nie, rekenskap moet gee oor hoe inwoners vergoed sal word, sê Armand Cloete, Vrystaatse VF Plus-wetgewerlid.

‘Hofbevel verbied kragtariefverhogings deur dertien munisipaliteite’

“Ingevolge die hofbevel in die aansoek van AfriForum teen Nersa in Junie vanjaar, mag net Letsemeng, Setsoto, Nketoana, Tswelopele, Moqhaka, Mohokare en Centlec in Mangaung hoër kragtariewe vir die huidige boekjaar hef.”

Volgens Cloete verbied die bevel van die hooggeregshof in Pretoria en die onsuksesvolle aansoek deur Nersa vir verlof tot appèl, die ander dertien munisipaliteite om enige kragtariefverhogings te implementeer. “Die VF Plus eis ook dat die skuldige munisipaliteite moet aandui hoe daar teen betrokke amptenare wat nie die regulasies nagekom het nie, opgetree gaan word.”

Cloete sê die VF Plus het dieselfde vraag in die Vrystaatse wetgewer gevra aan Saki Mokwena, die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake. “Die tyd het aangebreek dat munisipale amptenare wat nie wetgewing en regulasies nakom nie, verantwoordbaar gehou word en die regte van Vrystaatse inwoners beskerm word.”

In Mangaung was die kragverspreider Centlec se jaarlikse kragtariefverhoging byvoorbeeld 12,72%. Dit het op 1 Julie in werking getree toe inwoners van Bloemfontein en omstreke die hoenders in was oor dié stewige verhoging, vir wat hulle beskou as ’n onbetroubare diens.

Volgens DA-raadslid Dirk Kotzé het verwarring en paniek uitgebreek toe inwoners elektrisiteit by kleinhandelaars of deur hul banktoepassings gekoop het, net om onverwagte “agterstallige boetes” te ontvang.

Hierdie boetes het voortgespruit uit regstellings aan munisipale tariewe, wat daartoe gelei het dat baie mense verkeerdelik glo dat hulle agterstallig was met ander munisipale koste.

“Die DA het verskeie veiligheidskwessies gemerk en dit toegeskryf aan Centlec se nalatigheid,” het Kotzé gesê. “Straatligte bly vir weke stukkend, wat bydra tot meer inbrake en padongelukke in die nag. Boonop het oop verspreidingsubstasies, wat ná onderhoud onbewaak gelaat word, maklike teikens geword vir misdadigers wat kragkabels steel.”

Kotzé het bygevoeg dat inwoners se pogings om probleme met straatligte en krag deur Centlec se inbelsentrum aan te meld, dikwels futiel voorkom. “Aangemelde probleme word gereeld gemerk as opgelos ten spyte van die voortdurende probleme, wat beide inwoners en raadslede gefrustreerd laat.”

Einde Mei het Centlec begin om koepon-identifiseerders (KID’s) om te skakel. Inwoners het egter probleme ondervind met hierdie proses, veral omdat sommige voorafbetaalde meters verouderd was en vervang moes word. Om sake te vererger was daar geen aangewese kontakpersoon om hulle by te staan nie.

KID’s is ’n unieke kode wat gebruik word om elke koepon te identifiseer wanneer iemand krag koop. Hierdie opgradering na voorafbetaalde metersagteware, wat veranderinge aan meterkodering in ooreenstemming met internasionale standaarde behels, is ’n omskakeling wat alle voorafbetaalde kliënte wêreldwyd moet ondergaan.

Die huidige metersagteware sal in 2024 verval, en enige meter wat nie teen 24 November geherkodeer is nie, sal nie voorafbetaalde koepons kan laai nie, wat kliënte moontlik sonder elektrisiteit kan laat sit.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.