Central SA
Affies-speler kritiek ná hy tydens rugbywedstryd inmekaarsak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:53 Thu, 29 Aug 2024

“Minder as ’n week gelede het ’n skoolseun van Boksburg ook tydens ’n rugbywedstryd inmekaargesak, maar in sy geval was dit noodlottig.”
’n Skolerugbyspeler van Pretoria is steeds in ’n kritieke toestand nadat hy tydens ’n wedstryd inmekaargesak het.
Die leerder, wie se naam op versoek van sy ouers weerhou word, ’n lid van die Blou Bulle se Jeugrugbyvereniging, het blykbaar Dinsdag (27/8) op die Naka Bulle-klub se veld ’n hartaanval gehad, sê Antonie Schutte, Jeugrugbyvereniging-voorsitter.
Die wedstryd het by die rugbyklub in Pretoria se Moot plaasgevind, ter voorbereiding van die interprovinsiale rugbytoernooi in Oktober.
‘Die oorsaak van sy hartstilstand is nog onbekend’
Die gr. 10-leerder van Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria is om 17:36 per helikopter na die Netcare Unitas-hospitaal geneem, sê Schutte. Paramedici moes KPR en defibrillasie toepas om weer ’n spontane hartklop te kry, nadat die seun tydens ’n skrum inmekaargesak het. Die oorsaak van sy hartstilstand is nog onbekend.
Minder as ’n week gelede het ’n skoolseun van Boksburg, Christive (Christmas) Kimankinda (17), ook tydens ’n rugbywedstryd inmekaargesak, maar in sy geval was dit noodlottig.
“Die span het rustyd in ’n kring gestaan toe hy ewe skielik inmekaarsak,” het Louis Kruger, ondervoorsitter van Springs- junior rugbyklub, vroeër aan OFM Nuus gesê.
Christive Kimankinda. Foto: Facebook
“Noodhulppersoneel en later paramedici het ’n driekwartier reddingsasemhaling en borskompressies toegedien. Hy’s ook met ’n defibrillator geskok. Christive is langs die veld dood.”
Christive, ’n leerling aan die Hoërskool Voortrekker in Boksburg, het aan die begin van die seisoen in Julie by die Springs- junior rugbyklub se o.18-span aangesluit.
Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh