On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Duisende leerders damprook: Wat is die gevare?

───   HEIDRÈ MALGAS 12:12 Mon, 23 Sep 2024

Duisende leerders damprook: Wat is die gevare? | News Article
Damprook het die afname in nikotiengebruik onder die jeug omgekeer. Foto freepik.com

“Amper ’n kwart van leerders sê hulle kan nie deur die skooldag kom sonder om te damprook nie.”

Damprook raak ál gewilder geword onder die jeug.

Meer as ’n kwart van alle matrieks in Suid-Afrika damprook, sê die privaathospitaalgroep Life Path Health. Amper ’n kwart van leerders sê hulle kan nie deur die skooldag kom sonder om te damprook nie. Selfs kommerwekkender is dat die gemiddelde ouderdom waarop skoolkinders begin damprook, jonger as 15 is.

In navorsing deur die Universiteit van Kaapstad se Longinstituut in Desember 2023 is bevind onder 7 000 leerders wat damprook, is 26,5% in gr. 12, 17,4% in gr. 11, 13% in gr. 10 en 10,8% in gr. 9.

Meer as ’n kwart van matrieks in Suid-Afrika damprook. Foto iStock

“Nog navorsing is nodig om te verstaan waarom minderjariges damprook,” sê Asanda Gcoyi, uitvoerende hoof van die vereniging vir damprookprodukte. 

“Nes met die meeste ongewenste gedrag by jongmense kan wydverspreide minderjarige damprook die gevolg wees van groepsdruk, die versoeking om nuwe dinge te beproef, algemene sosiale spanning en in ’n mate, beskikbaarheid van damprookprodukte vanaf onbetroubare verkopers en sosiale netwerke,” meen Gcoyi.

Volgens vaperite.co.za in Suid-Afrika, is 18 die wettige ouderdom vir die aankoop en gebruik van damprookprodukte. Hierdie ouderdomsbeperking is ingestel om te verhoed dat minderjariges toegang tot en gebruik van e-sigarette en verwante produkte kry.

Volgens ’n onlangse News24-lesersopname glo meer as twee derdes van die deelnemers dat damprook net so gevaarlik soos rook is en op dieselfde manier gereguleer moet word. Slegs 13% glo damprook “is ’n beter alternatief” (vir gewone tabakprodukte), terwyl een uit vyf dink alle rokers behoort toegelaat te word om “te maak soos hulle wil sonder om beheer te word”.

News24-lesersopname. Foto News24

Gcoyi sê navorsing toon dat nikotien breinontwikkeling kan beïnvloed en soos alle ander riskante gedrag moet wetgewing aanvaar word om die verkoop van hierdie produkte aan enigiemand onder 18 te beperk.

Vaperite berig hoewel damprook as minder skadelik as tradisionele rook beskou word, hou dit ook gevaar in. Sommige potensiële gesondheidskwessies sluit in asemhalingsprobleme, nikotienverslawing, en die langtermyngevolge van die inaseming van die vloeistof in damprooktoestelle.

“In ’n onlangse studie is bevind rook verminder die geenuitdrukking van 53 gene wat deel vorm van die stryd teen virusse en bakterieë. Damprook beïnvloed ’n verstommende 358,” berig die Hart-en-beroertestigting van Suid-Afrika.

Damprook kan ook gesondheidsprobleme veroorsaak. Foto dental-nursing.co.uk

So benadeel damprook jou gesondheid 

  • Damprook kan jou asemhaling beïnvloed.
  • Damprook hou verband met haarverlies.
  • Ongelukkig het damprook die afname in nikotiengebruik onder die jeug omgekeer.
  • Damprook hou ’n ernstige risiko in vir tieners se breinontwikkeling.
  • Dit hou verband met erektiele disfunksie.
  • Tweedehandse damprook is gevaarlik vir almal.
  • Dit hou ernstige gevaar in van vergiftiging in huishoudings met jong kinders.
  • Damprook kan jou vel uitdroog en minder elasties maak.
  • Damprook kan jou mondgesondheid benadeel.
  • Dit kan waarskynlik kanker veroorsaak.
  • Damprookwolkies is vol chemikalieë.

Die volgende optrede kan help dat minder kinders damprook, stel Protect Our Next voor:

  • Apteke moet weier om e-sigarette en verwante produkte aan te hou.
  • Skole moet begin met opvoedkundige programme wat bewustheid verhoog oor die gevare van rook en damprook.
  • Handelaars moet gedwing word om wetgewing toe te pas waarvolgens tabakprodukte nie aan minderjariges of naby skole verkoop mag word nie.
  • Gemeenskappe moet rookvrye omgewings ondersteun, asook projekte wat daarop gemik is om tabakgebruik te verminder.
  • Inwoners word aangespoor om deel te neem aan openbare bewusmakingsveldtogte en beleide te ondersteun wat die jeug beskerm teen tabak- en nikotienprodukte.

OFM Nuus/Heidrè Malgas dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.