Central SA
Mangaung-munisipaliteit moet verantwoordelik gehou word vir watervermorsing─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:02 Wed, 02 Oct 2024
“Mangaung is reeds in die skuld weens ’n gebrek om waterinfrastruktuur in stand te hou of te herstel. Dit lei tot verskeie waterlekkasies.”
Die munisipaleit moet verantwoordelik gehou word vir die watervermorsing by gekaapte gebou in Bloemfontein.
So sê Tumelo Rammile, munisipale DA-raadslid, nadat die DA in die Mangaung-munisipaliteit onlangs ’n oorsigtelike besoek aan Thaba Nchu afgelê het om die kommerwekkende waterverliese, wat deur gekaapte geboue veroorsaak word, te assesseer. Die geboue word nou gebruik as paneelklopperwerkswinkels en motorwasserye.
Volgens Rammile is daar weens die munisipaliteit se gebrek aan politieke wilskrag ’n beduidende bedrag verskuldig aan Vaal Water.
“Dit is die direkte gevolg van ongereguleerde waterverbruik by dié persele. Die geboue, wat onwettig in ondernemings omskep is, gebruik daagliks water om voertuie te was en voertuie om te bou deur paneelkloppers.
“Inwoners wat vir dié dienste betaal, het hul kommer uitgespreek, maar geen stappe is tot dusver gedoen nie.”
Rammile sê die kwessie word vererger omdat die eienaars van die ondernemings die munisipaliteit se finansiële wanbestuur uitbuit.
‘Voortgesette onwettige verbruik van water vererger net die finansiële krisis’
“Hulle is bewus daarvan dat die munisipaliteit finansieel onstabiel is en slaan munt uit die gebrek aan wetstoepassing. Die munisipaliteit se versuim om regulasies te wysig en toe te pas, stel individue reg oor die stad in staat om straffeloos op te tree.”
Hy sê Mangaung is reeds in die skuld weens ’n gebrek om waterinfrastruktuur in stand te hou of te herstel. Dit lei tot verskeie waterlekkasies.
“Die voortgesette onwettige verbruik van water vererger net die finansiële krisis.”
‘Ons eis vinnige reaksie van die betrokke owerhede’
Die DA versoek ’n onmiddellike, volskaalse ondersoek na die onwettige waterverbruik by die gekaapte geboue.
“Ons eis ook vinnige reaksie van die betrokke owerhede om die verantwoordelike persone aanspreeklik te hou en seker te maak dat waterverbruik behoorlik gereguleer word.”