On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Hooggeregshof sien vermeende moordenaars van bejaarde egpaar van Glen

───   HEIDRÈ MALGAS 09:58 Wed, 30 Oct 2024

Hooggeregshof sien vermeende moordenaars van bejaarde egpaar van Glen | News Article
Die Morrison-egpaar. Foto: Facebook

Die saak van die vermeende moordenaars van die bejaarde egpaar van Glen, naby Bloemfontein, is oorgeplaas na die hooggeregshof. Hulle sal op 13 November vir ’n voorverhoorkonferensie verskyn.

Mohau William Lebeko (39) en Motlalentoa Lucas Wolf (26), wat teregstaan op twee aanklagte van moord en twee van huisbraak, sal intussen in aanhouding bly. 

OFM Nuus het vroeër berig dat hulle na bewering R220 000 – in twee betalings van R110 000 elk – van die egpaar se bankrekening na hul persoonlike bankrekeninge oorgeplaas het. Christo (76) en Christa (73) Morrison se selfone en bankkaarte is in besit van die verdagtes gevind toe hulle Vrydag 10 Mei by ’n gastehuis op Bloemhof in hegtenis geneem is.

Die Morrisons se liggame is Saterdag 4 Mei op die plaas Rietfontein by Glen, sowat 25 km buite Bloemfontein, gevind nadat ’n buurman die polisie ontbied het omdat hulle nie op sy oproepe gereageer het nie.

Mohau William Lebeko (39) en Motlalentoa Lucas Wolf (26) staan tereg op die moord van die bejaarde Glen-egpaar. Foto: Heidrè Malgas

Naasbestaandes het hulle hartseer in Facebook-kommentaar verwoord. Nicky Morrison sê: “My hart is nie lekker nie. My trane is stom. Dit voel of ek te naby aan ’n bom was wat ontplof het. Dis onnodig. Dis wreed.

“Julle het dit nie verdien nie. Ons sal almal daadwerklik na ons gesinne en familie se veiligheid moet kyk. Jy besef dit eers as jy dit aan jou lyf voel.”

Breggie Hattingh sê daar is nie woorde vir sulke wreedaards nie; “hou hulle net agter tralies”.

Die twee vermeende moordenaars, Mohau William Lebeko (39) en Motlalentoa Lucas Wolf (26). Foto: Heidrè Malgas

Op Vrydag (10/5) omstreeks 14:00 het die Vrystaatse provinsiale eenheid vir ernstige geweldsmisdaad inligting ontvang oor waar die gesoekte verdagtes, wat van die grumoorde op die bejaarde Morrison-egpaar beskuldig word, hulle bevind, sê polisiewoordvoerder sers. Mahlomola Kareli.

“Die span wat saam met Welkom se Taktiese Reaksie-eenheid werk, het na ’n gastehuis in Bloemhof gegaan waarna die twee verdagtes, 39 en 26 jaar oud, om 23:00 in hegtenis geneem is. Die egpaar se selfone was in hul besit.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.