On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Help Bloeddiens om dorpe en stede ‘rooi te verf’

───   KAREN VAN DER BERG 07:00 Thu, 28 Nov 2024

Help Bloeddiens om dorpe en stede ‘rooi te verf’ | News Article
Foto verskaf

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) wil met sy Rooi Saterdag ten minste 5 000 eenhede bloed insamel.

Met komende naweek se landswye veldtog wil die diens dorpe en stede landwyd spreekwoordelik rooi verf, sê Jana Wallace, bemarkingshoof vir die Vrystaat en Noord-Kaap. Hulle bied dit saam met die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB) aan.

“Ons vra mense om op een dag, as een nasie, saam te staan en bloed te skenk.” So wil hulle nie net bloed kry met die oog op die somervakansie nie, maar bewustheid oor bloed skenk opskerp. 

Skenk bloed, skenk lewe. Foto: Canva

“Ons wil ook graag nuwe skenkers kry en mense aanmoedig om lewenslank te bly skenk. Bloedskenking hou wedersydse voordele in waarvan ons mense graag wil vertel.”

Dit is veral nou belangrik in die Feestyd waar gewoonlik meer bloed benodig word en groot druk geplaas word op die diens se beskikbare voorraad.

‘Drie mense se lewe kan gered word met een eenheid bloed’

“Elke eenheid wat geskenk word en veilig gebruik kan word, word op drie verskillende maniere geskei en geberg. Dit kan dan as rooibloedselle, bloedplaatjies en plasma gebruik word.

“Met ander woorde drie mense se lewe kan gered word met een eenheid bloed.”

Wallace sê Rooi Saterdag volg op Swart Vrydag en sy moedig mense aan om ewe geesdriftig daaraan deel te neem as aan die grootkoopdag.

Foto: Canva

Ingrid Fourie (38), van Bethlehem, sê dit is ’n wonderlike veldtog en sy hoop mense sal ywerig deelneem. Sy is ’n gereelde bloedskenker.

“Ek skenk bloed omdat dit ’n moeitelose manier is om mense se lewe aan te raak en selfs lewens te red.” Haar man, Inus (42), is ook ’n skenker en hulle skenk gereeld saam.

Kyk op die die Bloeddiens se webtuiste waar jy van 09:00 tot 16:00 kan skenk. Talle groot winkelsentrums neem deel.

OFM Nuus/Karen van der Berg mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.