On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Harde werk wag al word Bela-klousules nie ingevoer

───   15:31 Thu, 28 Nov 2024

Harde werk wag al word Bela-klousules nie ingevoer | News Article
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Flip Buys, Solidariteit-voorsitter, en dr. Dirk Hermann, Solidariteit Beweging-bestuurshoof. Foto: X

Al word ’n skikking met die regering om nie die twee gewraakte klousules van die Bela-wet in te voer nie, as ’n groot deurbraak beskou, waarsku die Solidariteit-beweging hef aan lê nog voor.

Dié organisasie, wat Solidariteit en AfriForum insluit, het sy geskil met die presidensie en die minister van basiese onderwys na die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) geneem. Ingevolge die skikking word die klousules oor toelatings- en taalbeleid nie meer op 13 Desember van krag nie.

“Die belangrike deurbraak is dat ons nou weer tyd aan ons kant het dat Afrikaanse skole waarvan die kapasiteit vol is, nie ’n instruksie sal kry oor taal en toelating nie,” sê dr. Dirk Hermann, Solidariteit-bestuurshoof. “Dit is ’n groot verligting vir Afrikaanse skole.”

Hy beloof daar gaan nog “hard gepraat word oor norme en standaarde, en Solidariteit gaan ook moontlike wetswysigings voorstel. Skole hoef nie toe te laat dat hulle deur amptenare geboelie word nie.”

Kragtens die skikking moet norme en standaarde, nasionale beleidstellings en regulasies eers ontwikkel word wat onder meer sal bepaal dat skole wat vol is, nie gelas mag word om hul taal- en toelatingsbeleid te verander nie. Die onmiddellike omgewing van die skool en/of sy voedingsone moet ook in ag geneem word, en nie die groter onderwysdistrik nie.

Tydens die uitvoering van dié aanbevelings kan ’n behoefte dalk nog ontstaan aan wetswysigings aan artikel 4 en/of 5 van die Bela-wet, sê Solidariteit. Dit sal deel vorm van ’n proses waarin omvattende aanbevelings van Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, aan pres. Cyril Ramaphosa gemaak word vir oorweging.

Die skikking raak nie die proses van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) of enige ander prosesse rakende Bela nie. Solidariteit sal wel die uitkoms van die skikking aan die RNE voorhou, sê hy.

Die ooreenkoms is die gevolg van uiteenlopende prosesse, verduidelik Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit-beweging, waaronder gesprekke met pres. Ramaphosa, onderhandelinge met politieke partye soos die ANC, DA en VF+, die optog van die Voortrekkermonument na Freedom Park, ’n proses by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en die Nedlac-gesprekke.

“Die Bela-stryd is die belangrikste geveg waarby AfriForum sedert sy ontstaan betrokke was,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof. As Bela se bepalings oor skole se taalbeleid ingevoer sou geword het, sou dit ’n ernstige bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse kultuurgemeenskappe ingehou het. “Dit is nie net Afrikaanse skole en kinders wat geteiken sal word deur die implementering daarvan nie, maar ook die strewe na moedertaalonderring vir alle kultuurgemeenskappe.”

Die skikking maak ook voorsiening vir verdere ontwikkelinge oor moedertaalonderrig wat wyer strek as net Afrikaans.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.