On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse tehuis droom van toeganklike groentetuin

───   07:00 Sat, 07 Dec 2024

Bloemfonteinse tehuis droom van toeganklike groentetuin | News Article
Die tehuis se kombuis gebruik hul eie groente om te bespaar. Foto: Johan Gunter

Die Jean Webber-tehuis in Bloemfontein droom daarvan om sy groentetuin toeganklik te maak vir inwoners in rolstoele sodat hulle self daarin kan werk.

Dié instelling, wat bestuur word deur die Vrystaat Vereniging vir Persone met Gestremdhede, is al langer as 40 jaar ’n toevlugsoord vir individue met ernstige gestremdhede.

Jean Webber wil selfstandigheid, waardigheid en insluiting bevorder vir sy 37 inwoners, onder wie kwadrupleë, beroerteoorlewendes en mense met serebrale gestremdheid, veelvuldige sklerose en ander beduidende gestremdhede. Die inwoners streef daarna om meer selfonderhoudend te wees en het daarom ’n groentetuin op die perseel begin.

Om vir hierdie persone met gestremdhede hierdie geleentheid te skep en hulle op te hef en weer menswaardig te laat voel, het hierdie droom van die bestuur en personeel hande en voete gekry en is begin om die groentetuin te skep.

Gestremdes is self betrokke by die plant en versorging van die groente. Foto: Johan Gunter

Die volgende uitdaging is om die groentetuin ten volle toeganklik te maak deur in houtbakke op pale te plant sodat gestremdes self betrokke kan wees by die plant en versorging van die groente.

Die meeste inwoners kom oor die weg in ’n rolstoel, wat etlike uitdagings inhou. Daarom moet die groentebeddings moet gelig wees sodat ’n rolstoelgebruiker deels daaronder kan inskuif om nader aan die bedding te kom.

Rolstoelgebruikers kan gemaklik rondom die beddings beweeg. Foto: Johan Gunter

So ’n groentetuin is kostedoeltreffend, want die bak is nie diep nie; dus kan goeie grond en kompos gereeld ingewerk word. Rolstoelgebruikers kan ook gemaklik rondom die beddings beweeg om dit te bewerk.

Staatsbefondsing van R3 000 per inwoner dek net ’n gedeelte van die R12 945 wat dit maandeliks per inwoner kos. Elke inwoner dra ’n gedeelte van hul R2 190 Sassa-toelaag by.

Die groentebeddings moet gelig wees sodat ’n rolstoelgebruiker daaronder kan inskuif. Foto: Johan Gunter

Weens dié groot gaping, is Jean Webber afhanklik van barmhartige samaritane en maatskappye wat begryp hoe belangrik dit is om inwoners se liggaamlike en emosionele welstand te ondersteun.

Die tuin is juis begin om die groente in die tehuis se kombuis te gebruik en so op die koste van groente te bespaar. Die oortollige groente word aan die publiek verkoop en die geld gebruik om in inwoners se persoonlike behoeftes te voorsien, soos vir die aankoop van toiletware.

OFM Nuus/Johan Gunter cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.