Central SA
Plaasaanval in Rouxville-distrik: Man dood, vrou ontvoer─── HEIDRÈ MALGAS 11:53 Sun, 08 Dec 2024
Die polisie in die Vrystaat moet nog bevestig hoeveel verdagtes in hegtenis is nadat ‘n plaasaanval op die plaas Charles Post, geleë in Sektor 3 in die Rouxville-distrik, plaasgevind het.
Die inwoners, wie se name nog nie bekend gemaak mag word nie, was die teikens van hierdie wrede aanval. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en genoem dat daar glo reeds verdagtes in hegtenis geneem is.
Volgens inligting wat gesirkuleer word op plaasveiligheidsgroepe, is die man in die voorval geskiet. Sy dood is op die toneel bevestig.
Drie verdagtes het glo ná die aanval die vrou gedwing om in ’n voertuig te klim en hulle het in die rigting van Bethulie gevlug. Sy het Sondagoggend (8/12) daarin geslaag om ’n noodboodskap van haar telefoon te stuur.
Die Rouxville-veiligheidsplan is onmiddellik in werking gestel. ’n Groot gebied is afgesper om die verdagtes op te spoor.
Teen 06:30 het ’n waaksame persoon die voertuig by die Tierpoortdam raakgesien en dit aangemeld. Nadat versterkings op die toneel aangekom het, is daar vinnig opgetree en die verdagtes is glo in hegtenis geneem. Een van die aanvallers is in die been gewond tydens die inhegtenisneming.
Die vrou is in ’n getraumatiseerde, maar veilige toestand aangetref. Rouxville se sekuriteitsdienste en die polisie het die toneel beveilig en met hul ondersoek begin. 'n Moord- en roofondersoekspan is na die toneel ontbied om verdere ondersoeke te doen.
