Central SA
Vermeende kindermishandelaars van Bloemfontein se saak uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:04 Mon, 09 Dec 2024
Slegs die kêrel wat saam met ’n Bloemfonteinse ma en nog twee verdagtes in aanhouding is vir erge kindermishandeling, sal na verwagting op 20 Januarie aansoek om borgtog doen.
Die vier verdagtes het verlede Maandag (2/12) voorgekom in die Bloemfonteinse landdroshof op aanklagte van onder meer poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en kindermishandeling. Hulle word ook aangekla van kinderverwaarlosing en versuim om kindermishandeling aan te meld, sê kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Volgens konst. Anchen van Biljon is die saak afgehandel en sal net die ma se kêrel na verwagting aansoek om borgtog doen.
Die kêrel se ma, wat in Engeland woon, het die prokureur Greg Nel aangestel om hom te verteenwoordig terwyl die ander beskuldigdes deur Regshulp SA verteenwoordig word.
OFM Nuus het vroeër berig die viertal van die voorstad Noordhoek se vermeende dade het in September aan die lig gekom toe die ma haar tweejarige seun na die Pelonomi-hospitaal geneem het. Sy het beweer hy het geval.
Die kleuter moes ’n noodoperasie ondergaan vir veelvuldige beserings, insluitend gekneusde oë, swelling en ’n lip wat tot by sy neus gespleet was.

Betogers buite die hof. Foto: OFM Nuus
Die polisie is in kennis gestel, waarna die ma (34), haar kêrel (24) en die egpaar wat by hulle inwoon, Adriaan Cornelius Seriven (35) en Wendy Nel (40), in hegtenis geneem is. Die identiteit van die ma en haar kêrel word weerhou om die kinders te beskerm.
Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die seuntjie se susters (9 en 6), asook sy boetie (4) aangerand en verwaarloos is. Hester Bekker, stigter van die Bloemfonteinse liefdadigheidsorganisasie Guardian and Angel, het met hul tweede hofverskyning op 15 Oktober gesê al vier kinders word versorg in ’n plek van veiligheid.
’n Betroubare bron het aan OFM Nuus vertel die ma het na bewering ook probeer om die negejarige in ’n bad te verdrink deur haar kop vir ’n lang tyd onder water te hou.

