Central SA
Rustenburg: Polisiebeampte ondersoek ná beweerde aanranding op inwoner─── KEKELETSO MOSEBETSI 11:14 Tue, 17 Dec 2024
Noordwes-polisie ondersoek ’n aanrandingsaak ná ’n beweerde rusie tussen ’n polisieman wat van diens af was, en ’n lid van die publiek in Rustenburg se polisiekantoor.
Sam Tselanyane, Noordwes-polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig waaroor dit sedert die naweek op sosiale media gons.
Na bewering het die konfrontasie tussen die twee Saterdagoggend (14/12) in ’n haarsalon in ’n Rustenburgse inkopiesentrum begin toe die polisiebeampte blykbaar stry gekry het met die vermeende slagoffer en ander mense.
Ná die onderonsie is een van die betrokkenes na die polisiekantoor toe om ’n saak aanhangig te maak. Die polisiebeampte het egter ook daarheen gegaan en die klaer in die parkeerterrein teëgekom.
RUSTENBURG POLICE STATION
— ?? Jenna_Hari ???? ???? ???? (@Jenna_original2) December 16, 2024
A man who went to open up a case was assaulted by a police officer named Ofentse Raphuti. @SAPoliceService @RSA_IPID @IanCameron23 pic.twitter.com/jq7AxqhDaI
Tselanyane sê die polisiebeampte het die klaer agtervolg en hom na bewering in die polisiekantoor te lyf gegaan. Die polisiebeamptes aan diens het vinnig tussenbeide getree om die situasie te ontlont.
Die vermeende slagoffer kon toe ’n klag indien, maar die beampte het ’n teenklagte van aanranding teen hóm aanhangig gemaak.
Die provinsiale polisiebestuur in Noordwes veroordeel die voorval ten sterkste, sê Tselanyane.
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi dg/mvh
