On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse konstabel bly in aanhouding vir aanranding, verkragting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:53 Fri, 20 Dec 2024

Noord-Kaapse konstabel bly in aanhouding vir aanranding, verkragting | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

’n Polisiekonstabel van Upington bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning nadat hy ’n vrou na bewering ’n nag lank aangerand en verkrag het, omdat sy nie drankgeld vir hom kon gee nie.

Die konstabel (27) staan tereg op drie aanklagte van verkragting, drie van aanranding met die opset om ernstig te beseer en een van ontvoering, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, maar sy borgtogaansoek is verlede Vrydag (13/12) geweier.

“Na bewering het die konstabel op 15 November saam met die klaagster (23) by sy woning aangekom, vermoedelik nadat hy gedrink het.”

‘Die vrou het haar oom in SMS’e om hulp gevra’

Volgens Senokoatsane het die beskuldigde glo vir die klaagster gedurende die nag gesê om haar ma te bel omdat hy geld wou hê om nog bier te koop. “Toe sy nie die geld by haar ma kon kry nie, het hy haar na bewering aangerand en deur die nag meermale verkrag.”

Die slagoffer het probeer ontsnap en in die badkamer weggekruip, maar die konstabel het na bewering die deur afgebreek om by haar uit te kom.

“Tydens hierdie gebeure het die vrou, wat haar selfoon by haar gehad het, haar oom in SMS’e om hulp gevra. Dié het saam met die polisie by die beskuldigde se huis aangekom, waarna hy gearresteer is.”

Die slagoffer het probeer ontsnap en in die badkamer weggekruip. Foto ter illustrasie: Canva

Senokoatsane sê die saak is tot 27 Januarie vir verdere ondersoek uitgestel.

In ’n ander saak het ’n man (48) van die Vaaldriehoek Maandag (16/12) in Vanderbijlpark se landdroshof verskyn op aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en die skep en verspreiding van kinderpornografie waarby die minderjarige betrek is.

NVG-woordvoerder Lumka Mahanjana het vroeër aan OFM Nuus gesê die beskuldigde, wat in ’n verhouding met die slagoffer se ma is, het die slagoffer in 2020 aan kinderpornografiese beelde by hul huis in Vanderbijlpark begin blootstel. 

‘Privaat speurder het die grafiese beeldmateriaal ontdek en by die polisie aangemeld’

“Die beskuldigde word ook daarvan beskuldig dat hy die slagoffer betas, verkrag en eksplisiete foto’s geneem het, wat hy dan versprei op ’n sosialemediaplatform.”

Volgens Manhanjana het die misdade op die lappe gekom toe ’n privaat speurder na bewering die grafiese beeldmateriaal ontdek en dit by die polisie aangemeld het. ’n Saak is geopen en die beskuldigde is op Donderdag tuis in Vanderbijlpark in hegtenis geneem.

Die beskuldigde bly in aanhouding en sal na verwagting op 14 Januarie om borg aansoek doen.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.