Central SA
Gesin van Bloemfontein veilig tuis uit Mosambiek─── KAREN VAN DER BERG 10:49 Mon, 30 Dec 2024

’n Bloemfonteinse gesin is dankbaar oor hul besluit om hul Desembervakansie in Mosambiek kort te knip.
Onluste het verlede week in dié land uitgebreek nadat Frelimo die verkiesing gewen het wat op 9 Oktober gehou is. Die opposisieparty het die uitslag toe betwis.
Die grondwethof het Maandag (23/12) beslis Frelimo se kandidaat, Daniel Chapo, het die presidentsverkiesing met 65% gewen – vyf persentasiepunte minder as die vorige uitslag. Sy vernaamste teenstander Venancio Mondlane se uitslag is opwaarts met vier persentasiepunte tot 24% aangepas.
Mondlane en sy party, Podemos (Optimisteparty vir die Ontwikkeling van Mosambiek), hou vol die regerende party het met die uitslag geknoei. Die party word veral deur die jeug ondersteun. Sedertdien loop die land deur onder onluste waarin dermiljoene rande se infrastruktuur in die slag gebly het.
Mosambiek gaan gebuk onder gewelddadige onluste. Foto: Facebook
Die gesin het vroeër vandeesmaand ’n wonderlike vakansie in die suide van Mosambiek geniet. Hulle was hoofsaaklik in Ponta Do Ouro, sowat 10 km noord van die Suid-Afrikaans grenspos by Kosibaai.
“Ons sou aanvanklik tot 26 Desember gebly het,” sê Maritz, maar nadat hulle met verskeie mense gesels het, het hulle besluit om vier dae vroeër terug te keer.
“Ons is gewaarsku om nie op 23 Desember daar te wees wanneer die finale uitslag van die verkiesing bekendgemaak sou word nie.” Sy sê hoewel hulle dankbaar is om terug te wees was dit ’n wonderlike onvergeetlike vakansie. “Ek kan eerlikwaar sê daar was geen onluste toe ons daar was nie.”
Die Maritz-gesin in Mosambiek. Foto verskaf
Hulle kon wel sien die plaaslike mense en toerismebestemmings kry swaar. “Daar was nie baie vakansiegangers nie.”
Die geslote Facebook-groep DriveMoz wat inligting oor Mosambiek as vakansiebestemming verskaf, het mense wat vakansie hou in Mosambiek aangeraai om die land teen Maandag (30/12) te verlaat. Brandstof- en voedseltekorte heers. Daar is ook geen kontant beskikbaar nie, paaie word versper en kragonderbrekings kan voorkom.
‘Regering is vasbeslote om sy verantwoordelikhede na te kom’
Die Suid-Afrikaanse regering is bewus van die onluste in die buurland, sê lt.genl. Tebello Mosikili, woordvoerder van die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints). “Ons neem ook kennis van gevangenes wat uit tronke ontsnap het.”
Sy sê die regering is vasbeslote om sy verantwoordelikhede na te kom om vrede en stabiliteit in Suider-Afrika te bevorder en moontlike misdade te bekamp wat uit die onluste kan voortspruit. Die regering vra Suid-Afrikaners moet kalm bly en nie waninligting versprei wat onnodige kommer kan veroorsaak nie.
OFM Nuus/Karen van der Berg dg