On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Vaal-ma verkoop kleuter glo vir R75 000

───   ZENANDE MPAME 10:08 Thu, 13 Feb 2025

Vaal-ma verkoop kleuter glo vir R75 000  | News Article
Vaal-ma verkoop kleuter glo vir R75 000. Foto: X

Die borgaansoek van ’n ma van Boipatong wat na bewering haar tweejarige verkoop het, word Vrydag (14/2) vir ’n derde dag in die plaaslike landdroshof voortgesit.

Die hof het Woensdag gehoor R75 000 is in Keneilwe Shalaba (33) se bankrekening inbetaal op die dag wat haar seun as vermis aangemeld is. Sy het die hof versoek om haar op borgtog vry te laat omdat sy nege maande swanger is met ’n tweeling en die omstandighede in aanhouding haar gesondheid benadeel.

Sy is in hegtenis geneem en aangekla van mensehandel, sameswering om ’n misdryf te pleeg en die aflê van ’n vals verklaring nadat sy na bewering in November gelieg het oor haar kind se beweerde ontvoering.

“R75 000 is in die aansoeker se rekening inbetaal op dieselfde dag wat sy beweer die kind ontvoer is,” het speursers. George Motloung getuig. “Die aansoeker is ’n gevaar vir kinders.


“Sy is swanger met ’n tweeling, en ons weet steeds nie waar die kind is oor wie ons na hierdie hof gekom het nie. Die staat het ’n sterk saak teen Shalaba, en ons ondersoek is reeds ver gevorder.”

SowetanLive berig Kutlwano Shalaba (2) van Boipatong in die Vaaldriehoek word reeds drie maande vermis.

Toe Shalaba op Maandag 3 Februarie in die hof verskyn het, het sy erken ’n groot bedrag geld is op die dag van haar seun se verdwyning in haar rekening inbetaal, maar geweier om te sê waar dit vandaan gekom het.

Op die dag van Kutlwano se verdwyning, het Shalaba drie dae tevore aan haar verhuurder gesê dat sy na Durban gaan om klere te koop om te verkoop. Dit was die laaste keer dat die verhuurder en bure Kutlwano gesien het.

Dis steeds onbekend waar die kleuter hom bevind, ten spyte van uitgebreide polisiepogings. “Beamptes sal aanhou soek en probeer om diegene aan te keer wat verantwoordelik is vir sy verdwyning,” sê Lumka Mahinjana, Gautengse NVG-woordvoerder.

Die polisie vra dat enigiemand met inligting oor waar die seuntjie hom bevind, sers. Thembeka Maxambela by 079 695 1338 nader of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

Kutlwano Shalaba (2) word reeds drie maande vermis. Foto: verskaf

Kutlwano is die laaste keer op Sondag 10 November gesien toe sy ma beweer het drie mans het hom van haar rug af gegryp en in ’n silwer VW Polo weggejaag. Drie dae later het sy by die Boipatong-polisiekantoor ’n ontvoering aangemeld.

Die polisie het egter vasgestel dat daar geen ontvoering was nie, en sy het glo erken dat sy gelieg het. Sy is op Dinsdag 19 November in hegtenis geneem.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.