Central SA
Goudveldse polisieman bly in aanhouding oor onwettige vuurwapens─── MORNÉ VAN ROOYEN 09:52 Fri, 28 Feb 2025

’n Polisiebeampte van Odendaalsrus het Vrydag (28/2) vlugtig voorgekom in die plaaslike landdroshof omdat hy na bewering onwettig in besit was van twee vuurwapens en ammunisie. Hy bly in aanhouding tot sy borgaansoek komende Donderdag.
M.J. Mtshawe, van die eenheid vir sigbare polisiëring, is Donderdag in hegtenis geneem, sê lt. kol. Zweli Mohobeleli, Vrystaatse Valke-woordvoerder, nadat beamptes verlede maand inligting ontvang het oor ’n man wat na bewering ontoelaatbare vuurwapens by sy huis hou.
Wetstoepassers het die huis dopgehou en vasgestel dat dit aan die betrokke polisieman behoort. Nadat hulle ’n lasbrief bekom het, is ’n multidissiplinêre plan saamgesluit uit beamptes van die Valke, taktiesereaksie-eenheid, polisiespeurders en plaaslike misdaadrekordsentrum.
Hulle het Donderdag in die vroeë oggendure op die huis toegeslaan en beslag gelê op die twee vuurwapens en etlike rondes ammunisie, sê Mohobeleli. “Ondersoeke is aan die gang om die moontlike gebruik van dié vuurwapens in misdaad te bepaal.”
Genl.maj. Mokgadi Bokaba, Vrystaatse Valke-hoof. Foto: SAPD
“Niemand is bo die wet verhewe nie,” sê genl.maj. Mokgadi Bokaba, Vrystaatse Valke-hoof, wat die beamptes loof vir hul flinke optrede. “Hierdie inhegtenisneming getuig van ons verbintenis daartoe om misdadigheid uit te roei, selfs in ons eie geledere.”
Einde verlede jaar is ’n polisieman van Noordwes in hegtenis geneem ná ’n middernagtelike skietery in ’n kuierplek. Die konstabel (34), verbonde aan die polisiekantoor op Bray, ’n doeanepos en nedersetting aan die Botswana-grens, is douvoordag op Oukersdag (24/12) aangekeer op Ganyesa, sowat 70 km noord van Vryburg.
Die polisie het beslag gelê op ammunisie en vuurwapens in M.J. Mtshawe se woonplek. Foto: Valke
Hy het glo ’n 21-jarige in ’n plaaslike kuierplek geskiet, het kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, gesê. “Die slagoffer is inderhaas na ’n plaaslike hospitaal geneem, waar hy in ’n ernstige toestand opgeneem is.”
Beamptes het beslag gelê op ’n 9 mm-pistool. Die saak is na die polisiediens se onafhanklike klagtedirektoraat vir verdere ondersoek verwys.
Talle Sentraal-Suid-Afrikaanse polisiebeamptes het die afgelope jaar met die gereg gebots:
- In Februarie is drie Noordwes-beamptes aangekeer nadat hulle glo R6 000 omkoopgeld geëis het om ’n verdagte nie in hegtenis te neem nie. Die Valke het die drie speurders in ’n lokval aangekeer.
- In Mei is ’n oudpolisieman van Welkom gevonnis vir die onwettige besetting van ’n staatshuis waarmee hy duisende rande huurgeld onregmatig verdien het. Manie Richard Williams (66) het maandeliks R75 000 van vyf huurders gevorder totdat die polisie ’n stokkie voor sy slenter gesteek het.
- Ook in Mei is kapt. Karel du Toit, hoof van Springbok se eenheid vir veediefstal en bedreigde plantspesies, aangekeer op aanklagte van onder meer korrupsie, bedrog en die oortreding van die Toerismewet. Hy is vrygelaat op borgtog van R50 000 met streng voorwaardes.