On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein: Vermeende kindermishandelaars kry nie borgtog weens geen vaste adres

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:40 Fri, 07 Mar 2025

Bloemfontein: Vermeende kindermishandelaars kry nie borgtog weens geen vaste adres  | News Article
Adriaan Cornelius Seriven (geel hemp) en Wendy Nel (rooi hemp). Foto: OFM Nuus

Die borgtogaansoek van ’n Bloemfonteinse ma en haar twee huisbewoners wat glo haar tweejarige seun aangerand het, is geweier omdat hulle nie ’n vaste adres kon verskaf nie.

Adriaan Cornelius Seriven (35), Wendy Nel (40) en die ma (34), wie se identiteit nie bekend gemaak kan word om die privaatheid van haar kinders te beskerm nie, se borgtogaansoek is Woensdag (5/3) in die Bloemfonteinse landdroshof geweier, sê Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Noord-Kaapse NVG.

Die drietal, asook die ma se kêrel (25), staan tereg op verskeie aanklagte, insluitend poging tot moord, aanranding met die doel om ernstige liggaamlike besering te veroorsaak, kindermishandeling, kinderverwaarlosing en versuim om kindermishandeling aan te meld. Die kêrel is vroeër op borgtog van R1 000 vrygelaat.

LEES OOK: Nuwe aanklagte teen ma, verdagtes wat kleuter (2) aanrand

Die kêrel se ma, wat in Engeland woon, het prokureur Greg Nel aangestel om hom te verteenwoordig, terwyl die ander beskuldigdes deur Regshulp SA verteenwoordig word.

Volgens Senokoatsane was die ma, Nel en Seriven se formele borgtogaansoek veronderstel om voort te gaan, maar niemand by die adresse wat hulle verskaf het was bereid om hulle te akkommodeer nie.

OFM Nuus het vroeër berig die viertal van die voorstad Noordhoek se vermeende dade het in September aan die lig gekom toe die ma haar tweejarige seun na die Pelonomi-hospitaal geneem het. Sy het beweer dat hy geval het.

Betogers tydens een van die hofverskynings buite die hof. Foto: OFM Nuus

Die kind het 'n noodoperasie vir veelvuldige beserings benodig, onder meer vir sy lip wat tot by sy neus gesplete was. Nadat die polisie in kennis gestel is, is die ma, haar kêrel en die egpaar wat by hulle woon,  Seriven en Nel in hegtenis geneem.

Verdere ondersoeke het aan die lig gebring dat die seun se broer (4) en susters (9 en 6) ook aangerand en verwaarloos is. Hester Bekker, stigter van die Bloemfonteinse liefdadigheidsorganisasie Guardian and Angel, het tydens die groep se tweede hofverskyning op 15 Oktober bevestig dat al vier kinders in ’n plek van veiligheid versorg word.

’n Betroubare bron het aan OFM Nuus gesê die ma het glo ook gepoog om haar negejarige dogter te verdrink deur die kind se kop vir ’n lang tydperk onder water te hou. 

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.