On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vertroue hoog dat Suid-Afrika se begroting sal slaag

───   06:00 Sat, 01 Mar 2025

Vertroue hoog dat Suid-Afrika se begroting sal slaag | News Article
Minister Enoch Godongwana. Foto: Facebook

Pres. Cyril Ramaphosa is vol vertroue dat die 2025-begroting teen Woensdag (2/4) goedgekeur sal wees, ondanks voortdurende dispute oor die voorstel om belasting op toegevoegde waarde (BTW) te verhoog.

Die regering van nasionale eenheid (RNE) bly verdeeld oor die BTW-verhoging, maar daar is optimisme dat ’n resolusie naby is, met die rand wat styg namate onderhandelinge voortduur, berig bizcommunity. 

Die staande komitee oor finansies sal Dinsdag (1/4) oor die fiskale raamwerk stem voordat dit na die parlement vir goedkeuring gaan. Daar was vertragings en uitdagings met die begroting, hoofsaaklik as gevolg van ’n voorgestelde BTW-verhoging van 0,5 persentasiepunte in 2025/26 en nog 0,5 in 2026/27, wat die koers op 16% te staan bring. 

Hierdie maatreël sal na verwagting ’n bykomende R28 miljard in 2025/26 en R14,5 miljard in 2026/27 genereer, maar dit het aansienlike teenkanting van die vernaamste RNE-partye ondervind.

John Steenhuisen, DA-leier, het hoop op ’n kompromis uitgespreek en gesê: “Ons is nader as wat baie mense dink en ek bly hoopvol dat ons (konsensus) sal kan bereik.” 

Indien daar nie oor die fiskale raamwerk ooreengekom word nie, kan die parlement onder tussentydse bewilligings funksioneer, wat toelaat dat 45% van die vorige jaar se begroting bestee kan word. Dit kan uitgawes vertraag, maar ook onsekerheid veroorsaak en ’n impak op openbare dienste en infrastruktuur hê.

Die begrotingsgeskil strek verder as BTW en beklemtoon die behoefte aan ’n meer robuuste ekonomiese beleid om Suid-Afrika se lae groei en werkers se stryd aan te spreek. Die meeste politieke partye is téén die hersiene begroting wat finansiesminister Enoch Godongwana vroeër vandeesmaand ter tafel gelê het.

Mahlengi Bhengu-Motsiri, ANC-woordvoerder, het Ramaphosa se vertroue herhaal en gesê: “Die president het so gesê, neem sy woord daarvoor. Ons is vol vertroue dat dit Woensdag sal slaag.” 

Die DA het egter gewaarsku dat indien die begroting met ondersteuning van partye van buite die GNU slaag, die DA die RNE-vennootskap sal verlaat, en beklemtoon dat die begroting se kernkwessie die bestuur van uitgawes is.

OFM Nuus cg/mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.