Central SA
Noordwester kry amper R1 miljoen ná onregmatige aanhouding─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:20 Wed, 23 Apr 2025

Skadevergoeding van R850 000 is aan ’n man van Noordwes toegeken omdat hy langer as vyf maande onregmatig aangehou is.
Serame Petrus Tikoe (39) kry dié bedrag plus rente nadat hy ná sy inhegtenisneming amper ’n halwe jaar aangehou is. Die hooggeregshof in Mahikeng het op 15 April die uitspraak in Tikoe se saak teen die polisieminister gelewer.
Waarnemende regter Thabiso Masike het in sy uitspraak die minister van polisie sterk gekritiseer omdat hy die saak verkeerd gehanteer het. Hy het die onmenslike omstandighede veroordeel waaronder Tikoe aangehou is.
Luidens die uitspraak is Tikoe op 1 September 2022 in hegtenis geneem. Hy was omstreeks 16:00 op pad na ’n slaghuis toe ’n polisiebeampte hom voorkeer en boei.
Onbewus van aanklagte
Die hofbevel lui verder dat Tikoe meegedeel is hy word van gewapende roof en die onwettige besit van ammunisie aangekla. Hy is oor sy regte ingelig en na ’n sel in Potchefstroom se polisiekantoor geneem.
Op 5 September 2022 is Tikoe voor die hof gebring, maar hy is nooit vertel wat die presiese redes vir die aanklagte teen hom was nie, en ook nie wanneer die beweerde misdaad plaasgevind het nie. Die saak is uitgestel.
Tikoe is toe op 14 September aan ’n uitkenningsparade onderwerp en is die volgende dag na die Bougroep-gevangenis oorgeplaas, waar hy saam met 45 ander gevangenes, insluitend bendelede, in ’n sel geplaas is. Hy het in die tronk gebly tot 15 Februarie 2023, toe borgtog aan hom toegestaan is.
Meisie verloor baba
Die hofbevel het ook die haglike toestande uitgelig waaronder Tikoe aangehou is. Omdat daar nie watertoevoer na die sel in die Potchefstroomse polisiekantoor was nie, kon hy hom vyf dae lank nie was nie.
Besoekers het vir Tikoe by die Bougroep-gevangenis sigarette gebring wat hy vir beskerming met bendelede uitgeruil het.
Tikoe is uiteindelik onskuldig bevind op die aanklagte teen hom en het ’n eis om skadevergoeding teen die minister ingedien. Ten tyde van sy inhegtenisneming was Tikoe se meisie swanger, maar sy het ’n miskraam gehad. Hy beweer dit het gebeur weens sy onregmatige aanhouding toe hy haar nie kon bystaan nie.
OFM Nuus cg