On Now
Weekends 20:00 - 23:59
Saturday Nights OFM
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Vanderbijlpark-substasie al drie jaar veilig ná gereelde kabeldiefstal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:39 Sat, 03 May 2025

Vanderbijlpark-substasie al drie jaar veilig ná gereelde kabeldiefstal | News Article
Die substasie in Vanderbijlpark. Foto verskaf

Met die algehele verval en agteruitgang van infrastruktuur, het ’n substasie wat gereeld deur kabeldiewe geteiken is – wat die gemeenskap dikwels vir dae sonder krag gelaat het – die afgelope drie jaar veilig gebly.

AfriForum se Vanderbijlpark-tak, in samewerking met Sekuriteit Sonder Grense, het die afgelope drie jaar ses substasies beveilig, wat verseker dat die gemeenskap nie meer kragonderbrekings as gevolg van diefstal ervaar nie, sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikkoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek.

Die tak het onder meer alarmstelsels by hierdie substasies geïnstalleer, wat nou deur Sekuriteit Sonder Grense gemonitor word. Hierdie benadering sal ook gebruik word om bykomende substasies in die gebied te beveilig.

Volgens Blignault  werk AfriForum-strukture regoor die land aktief om infrastruktuur te beskerm in ’n poging om die totale ineenstorting van openbare dienste teen te werk. “In Vanderbijlpark was die substasies gereelde teikens van kabeldiefstal, wat tot langdurige kragonderbrekings gelei het. Oor die afgelope drie jaar het die alarmstelsels egter ’n belangrike rol gespeel in die afskrik van sabotasie en diefstal.”

Beveilig deur deure te vervang, omheinings

Hy sê die tak het ook stappe gedoen om ’n transformator op die hoek van Da Vinci- en Moerdykstraat te beveilig. “Hierdie transformator, te groot om in die mini-substasiekas te pas, is bo-op dit geïnstalleer en blootgestel. Om beserings en ongemagtigde toegang te voorkom, het die tak die gebied rondom die transformator afgekamp om kinders en die publiek teen skade te beskerm.”

Daarbenewens het die Vanderbijlpark-tak die substasie in Carpentierstraat beveilig deur die deure te vervang en die gebied te omhein. Sekuriteit Sonder Grense het ook die alarmstelsel op hierdie plek herstel en hervat.

Blignault beklemtoon die belangrikheid van samewerkingspogings tussen organisasies soos AfriForum en plaaslike gemeenskappe om infrastruktuur te beskerm. “Ongelukkig blyk dit dat munisipaliteite nie die vaardighede of kapasiteit het om kritieke infrastruktuur soos substasies behoorlik te beveilig nie. Ons kan nie net agteroor sit en wag dat hulle verantwoordelikheid neem nie – ons moet self optree, anders sal daar binnekort niks oor wees nie.”

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.