On Now
Weekends 20:00 - 23:59
Saturday Nights OFM
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

DA sê watersituasie in Vrystaat is menseregtekrisis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:14 Sat, 03 May 2025

DA sê watersituasie in Vrystaat is menseregtekrisis | News Article
Dave McKay, DA-LPW. Foto verskaf

Die DA in die Vrystaat sal dringend vrae en mosies aan rade voorlê om verantwoording te eis van diegene wat verantwoordelik is vir die skending van water- en sanitasieregte.

Die water- en sanitasiekrisis in die Vrystaat is meer as ’n tegniese ineenstorting – dit is ’n menseregtekrisis met wydverspreide gevolge, sê Dave McKay, DA-LPW. “Gemeenskappe ly as gevolg van langdurige watertekorte en voortdurende rioolbesoedeling, wat lei tot toenemende ekonomiese probleme, omgewingskade, veiligheidskwessies en ernstige gesondheidsrisiko’s.”

Hy sê van Metsimaholo en Mohokare tot Matjhabeng, Kopanong, Letsemeng en Mafube-munisipaliteite, faal byna elke plaaslike regering in die provinsie onder ANC-leierskap. McKay beklemtoon hoe erg die situasie geword het: In Winburg (Masilonyana-munisipaliteit) en Paul Roux (Dihlabeng-munisipaliteit) het inwoners onlangs ’n hele week sonder lopende water verduur. 


“In gebiede soos Dihlabeng, Moqhaka en Matjhabeng word mense gedwing om onveilige, besoedelde water te gebruik.”

Rou riool vloei deur strate, oop gebiede

Volgens McKay beweer ANC-amptenare dat hulle infrastruktuur soos krane en toilette aan gemeenskappe en informele nedersettings verskaf het, “maar hierdie bewerings beteken niks as die krane droog is en toilette onbruikbaar is nie.”

Hy sê in plekke soos Tshwaraganang (Letsemeng Munisipaliteit) en Malebogo (Tokologo Munisipaliteit) vloei rou riool deur die strate en oop gebiede, wat waterbronne soos riviere, damme en strome besoedel.

“Die krisis strek tot gebiede soos Phomolong in die Mangaung Metro en Phambile in Letsemeng, waar inwoners – en hul vee – dikwels geen ander keuse het as om op besoedelde waterbronne staat te maak nie.

Skynheiligheid blootgelê, geregtigheid geëis

“Dit is nie geïsoleerde gevalle nie,” beweer McKay. “Dit is simptome van breër sistemiese mislukking wat veroorsaak word deur jare van disfunksionele regering, wydverspreide korrupsie en die skadelike gevolge van die ANC se kaderontplooiingsbeleid.”

Mckay sê die DA sal voortgaan om hierdie skynheiligheid bloot te lê en geregtigheid te eis. “Ons is vasbeslote om die grondwetlike regte van inwoners van die Vrystaat te verdedig en te verseker dat skoon, veilige water nie ’n luukse is nie – maar ’n basiese reg wat vir almal toeganklik is.”

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.