On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Wêreldhandhigiënedag: Die kritieke rol van hande was

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:00 Sun, 04 May 2025

Wêreldhandhigiënedag: Die kritieke rol van hande was | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Met griepgevalle wat reeds landwyd toeneem, doen gesondheidsowerhede ’n beroep op die publiek om hierdie winter handhigiëne as ’n eerste verdedigingslinie teen infeksie te prioritiseer.

Wêreldhandhigiënedag, wat jaarliks op 5 Mei gevier word, beklemtoon die kritieke rol van hande was in die bekamping van die verspreiding van aansteeklike siektes, veral gedurende die kouer maande wanneer siektes soos griep en respiratoriese infeksies toeneem.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) het die 2025-griepseisoen op 24 Maart begin – wat dit die vroegste aanvang in meer as ’n dekade maak, sedert 2010. Dit dui op ’n beduidende verskuiwing, aangesien die 2024-seisoen eers vier weke later, laat in April, begin het, sê Ingrid Singels, bemarkingsbestuurder vir Pharma Dynamics se Wetenskaplike afdeling.

“Data van die NIOS se longontsteking-moniteringsprogram bevestig ook dat die mees algemene griepstam wat tans in omloop is, griep A (H3N2) is, wat verantwoordelik is vir 68% van laboratoriumbevestigde gevalle tot dusver.”

Verkoues, griep oorgedra deur druppels, kontak

Sy sê asemhalingsiektes, soos verkoues en griep, word oorgedra deur druppels en kontak met besmette oppervlaktes, wat handhigiëne ’n noodsaaklike versperring teen infeksie maak. “Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beklemtoon dat behoorlike handhigiëne een van die mees effektiewe maatreëls is om die verspreiding van infeksie in gesondheidsorgomgewings en in die gemeenskap te voorkom.”

Volgens Singels is handhigiëne ’n fundamentele praktyk wat die las van aansteeklike siektes aansienlik verminder. “Soos ons die winterseisoen betree, kan die versterking van die gewoonte om gereeld jou hande te was lei tot aansienlike voordele vir die openbare gesondheid.

“Gebruik skoon lopende water en seep en skrop alle dele van jou hande – insluitend die rugkant, tussen ons vingers en onder die naels – vir ten minste 20 sekondes voordat jy dit deeglik afspoel en afdroog. 

Belangrike tye om hande te was, sluit in: voor en na etes en kosvoorbereiding; wanneer jy iemand by die huis versorg wat siek is met braking/diarree; voor en ná die behandeling van wonde; ná toiletgebruik, doeke ruil of skoonmaak van ’n kind wat die toilet gebruik het; ná hoes of nies; ná aanraking van diere of hul ontlasting; ná aanraking van vuilgoed en wanneer jy van openbare plekke huis toe kom.”

Handskoene nie plaasvervanger vir handhigiëne

Die WGO se 2025-veldtogtema beklemtoon dat hoewel handskoene in gesondheidsorgomgewings gebruik word, hulle nie ’n plaasvervanger vir handhigiëne is nie. Behoorlike handhigiënepraktyke, insluitend die gebruik van die korrekte tegnieke en hande was op die regte tye, is van kardinale belang om beide pasiënte en gesondheidswerkers te beskerm.

Singels sê openbare bewustheidsveldtogte en opvoeding is noodsaaklik om handhigiënepraktyke te bevorder.

“Gemeenskapsbetrokkenheidsinisiatiewe kan lei tot verhoogde nakoming en ’n vermindering in die verspreiding van infeksies. Deur ’n kultuur van handhigiëne te bevorder, kan gemeenskappe kwesbare bevolkings beskerm en die algehele voorkoms van wintersiektes verminder.”

Gegewe die vroeë aankoms van die griepseisoen en die oorheersing van sirkulerende stamme soos A(H3N2), dring gesondheidsowerhede daarop aan dat die publiek – veral hoërisiko-individue, soos bejaardes, jong kinders, swanger vroue en diegene met chroniese toestande – die griepinenting prioritiseer en vroegtydig mediese sorg soek indien griepsimptome ontwikkel.

Terwyl die land voorberei vir die winterseisoen, is dit belangriker as ooit tevore om die belangrikheid van handhigiëne te beklemtoon. Singels sê deur gesamentlike pogings in opvoeding, gemeenskapsbetrokkenheid en die nakoming van bewese handhigiënepraktyke, kan die nasie die impak van wintersiektes verminder en die openbare gesondheid beskerm.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.