Central SA
Ondersoek duur voort ná skietery op Lichtenburg─── KEKELETSO MOSEBETSI 11:56 Mon, 05 May 2025

Die polisie op Lichtenburg het ’n ondersoek van stapel gestuur ná ’n gewelddadige skietery in die kantoor van Ditsobotla-munisipaliteit waarin ’n veiligheidswag ernstig gewond is.
Die voorval het Sondag (4/5) omstreeks 05:00 plaasgevind, sê kol. Adèle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder. Bestaande wagte het glo stry gekry met ’n nuut-aangestelde sekuriteitsmaatskappy, wat daar opgedaag het om hul pligte te aanvaar.
Skote is geskiet, sê Myburgh, en ’n wag is ernstig gewond en na ’n nabygeleë hospitaal geneem vir dringende mediese behandeling.
Die polisie ondersoek verskeie aanklagte, waaronder poging tot moord, oortreding van eiendomsreg, opsetlike saakbeskadiging en die onwettige afvuur van ’n vuurwapen.
Ditsobotla is die laaste ruk pal in die nuus. Die munisipaliteit sukkel reeds maande met ernstige politieke onstabiliteit. Twee maande gelede het ’n magstryd ontstaan toe twee ANC-raadslede tegelykertyd aanspraak gemaak het op die burgemeestersamp.
Rdl. Mazwi Moruri is in Januarie vanjaar as burgemeester van die sukkelende munisipaliteit ingehuldig, maar in Maart is rdl. Molefe Morutse op ’n afsonderlike raadsitting in Mahikeng as burgemeester aangewys. Dit het tot regs- en politieke geskille gelei. Moruri het die wettigheid van Morutse se aanstelling betwis weens prosedurele ongerymdhede.
’n Paar dae later het die hooggeregshof Moruri se aanwysing bevestig as die regmatige burgemeester van Ditsobotla. Rasupang Moeketsi is as waarnemende munisipale bestuurder bevestig, wat die leierskapsgeskil beëindig het.
OFM Nuus het die munisipaliteit om kommentaar genader.