On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-rugbyspeler dood ná nekbesering

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:41 Wed, 07 May 2025

Noordwes-rugbyspeler dood ná nekbesering   | News Article
Vilano Saunders. Foto verskaf

Geen begrafnisreëlings is nog getref vir ’n Noordwes-rugbyspeler wat oorlede is nadat hy ’n ernstige nekbesering tydens ’n rugbywedstryd opgedoen het nie.

Vilano Saunders (20) is Maandag (5/5) in die Sebokeng-hospitaal in Vereeniging oorlede nadat hy Saterdag ’n ernstige nekbesering opgedoen het tydens ’n wedstryd vir die NWU o. 21-rugbyspan op Vanderbijlpark.

“Hy het op ’n haker in die skrum gesak en waarskynlik op nat gras gegly,” sê Caitlin Venter (20), sy meisie van die afgelope ses jaar. Die paartjie was sedert gr. 9 saam toe hulle leerders aan die Hoërskool Overvaal in Vereeniging was en het planne gehad om in China te onderwys gee.

Vilano saam met sy ma, Lizelle. Foto verskaf

Volgens Marsha Venter, Caitlin se ma, het Saunders tydens die wedstryd op die NWU-kampus ’n nekbesering binne die eerste halfuur van die spel opgedoen. “Hulle het met hom na Midvaal-Hospitaal gehaas, waar aanvanklike CT-skanderings die erns van sy toestand onthul het.

Volgens Caitlin het Saunders gesê dat hy ’n “klapgeluid” gehoor het en niks van sy nek af ondertoe kon voel nie.

’n CT-skandering in die Midvaal- Privaat Hospitaal in Drie Riviere het getoon dat Saunders se vierde en vyfde nekwerwels verskuif het. Hy is later na die staatshospitaal in Sebokeng oorgeplaas omdat hy nie aan ’n mediese fonds behoort het nie.

Caitlin Venter en Vilano Saunders. Foto verskaf

“Die hospitaal het my Maandag omstreeks 05:30 gebel en gesê hy het om 04:00 opgehou asemhaal. Hulle het lank probeer om hom by te bring, maar kon nie,” sê Venter.

“Hy is oorlede nadat die swelling van die besering so erg geword het dat dit die funksie van die area in sy rugmurg wat die diafragma beheer, belemmer het. Die dokter het gesê indien hy oorleef het, sou hy waarskynlik ’n kwadrupleeg gewees het, en nie lank sou geleef het nie as gevolg van die rugmurgskade.”

Saunders se ma, Lizelle, het Maandag sy dood só op Facebook bekendgemaak: “Ek wil net vir almal sê baie dankie vir die belangstelling en ondersteuning met Vilano se rugbybesering.

‘Hy was die mooiste kind met die mooiste hart … Ek is lief vir jou, my Viellies’

“My kind is ongelukkig van ons weggeneem vanoggend. Ek is bly ek het die voorreg gehad dat hy vir my ‘Mamma’ kon sê, dat hy vir my geleen was. Hy was die mooiste kind met die mooiste hart … Ek is lief vir jou, my Viellies.”

Sy en Saunders se suster, Ledene O’Kelly-Du Plessis, is nog op pad na Suid-Afrika vanaf China, waar hulle albei werk.

Saunders het by die Venter-gesin gewoon in Drie Riviere, Vereeniging, terwyl hulle onderwys aan die NWU se Vanderbijlpark-kampus studeer het. Hy was ’n tweedejaarstudent.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.