On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp-parkeerterreinaanranding: Beskuldigde menigmaal deur oorledene gedreig

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:37 Thu, 08 May 2025

Klerksdorp-parkeerterreinaanranding: Beskuldigde menigmaal deur oorledene gedreig | News Article
Hilton Pretorius se familie. Foto: Charne van der Merwe

Die eksmeisie van die vermeende Klerksdorpse moordenaar het Donderdag (8/5) op die tweede dag van die verhoor gesê sy het kort ná die voorval met die media gepraat het om die beskuldigde se eer te herstel.

Natasha van der Merwe, eksmeisie van Wernich Botha, wat aangekla word van die moord op Hilton Pretorius en die poging tot moord op PW Roos, sê sy het die onderhoud met Huisgenoot toegestaan omdat die publiek ná die voorval Botha as ’n gewelddadige man beskou het en as iemand wat daarvan hou om te baklei en probleme te maak. 

“Dit is glad nie die geval nie. Wernich is ’n sagte, liefdevolle persoon, nie ’n vegter nie.” Sy het getuig dat mense haar beskuldig het dat sy ’n affair met Pretorius gehad terwyl sy in ’n verhouding met Botha was, maar dat sy en Pretorius net vriende was.

Natasha van der Merwe in die getuiebank. Foto: Charne van der Merwe

Daar is ook gesê dat sy die skuldige vir die sogenaamde liefdesdriehoek was wat die dodelike konfrontasie veroorsaak het. “Mense het my veroordeel en gesê ek is die rede vir alles,” het sy in die streekhof getuig.

Volgens Van der Merwe het sy Pretorius op twee geleenthede in Augustus 2023 – die 30ste en weer die 31ste – in die plaaslike kroeg Cadillacs ontmoet.

Sy het aan die hof vertel dat Pretorius tydens hierdie ontmoetings sy spyt teenoor haar uitgespreek het vir hoe hy haar in hul verhouding behandel het, insluitend manipulasie en emosionele skade. “Ek het sy verskoning aanvaar omdat ek altyd ’n sagte plek vir hom gehad het.”

LEES OOK: Klerksdorp-moord: Beskuldigde na bewering terug na Somalië

Hulle het ook hier besluit om vriende te bly en dis hoekom Pretorius die volgende aand by haar huis was, maar Botha het twee weke vroeër as verwag uit Somalië teruggekeer.

Sy het getuig dat hy haar die aand van die voorval wakker gemaak het deur haar op die skouer te tik, waarna hy Pretorius langs haar gesien het. Volgens haar het Botha Pretorius toe twee keer geslaan.

Sy het haar getuienis voortgesit, en gesê nadat Botha Pretorius geslaan het en hom uit die bed na die vloer gesleep het, het Botha hom op sy voete gehelp. Botha het toe weggestap.

Gevloek en gedreig

“Daar was niks meer om te doen nie,” het Van der Merwe gesê, en bygevoeg dat Botha op daardie stadium geen verdere intensie gehad het om die konfrontasie met Pretorius voort te sit nie. Onder kruisverhoor het Van der Merwe gesê nadat sy Botha na buite gevolg het, het Pretorius ook uit die huis gekom.

Sy het gesê Pretorius het geskree en vloekwoorde gebruik, wat hy teen Botha gerig het. “Hy het Wernich gevloek en gedreig Hy gaan hom slaan.”

Volgens Van der Merwe het sy Pretorius gevra om te gaan, maar hy het steeds dreigemente gemaak. “Ten spyte van die aggressie, het Botha nie gereageer nie.” 

Hilton Pretorius en Natasha van der Merwe (née Fischer). Foto: Facebook

“Wernich het niks gedoen nie; hy het net daar gestaan. Hy wou nie meer baklei nie.”

Van der Merwe het verder geantwoord, in reaksie op vrae van die adv. Hennie du Plessis, dat daar 461 boodskappe tussen haar en Pretorius was tussen 10:00 en 05:00 die oggend van die voorval op 2 September 2023. Sy het bevestig dat Pretorius haar herhaaldelik gebel en boodskappe aan haar gestuur het.

Die advokaat het in die hof gevra of sy saamstem dat Pretorius in minstens vyf van daardie boodskappe gesê het hy het “niks meer om te verloor nie”, hulle direk gedreig het en gesê het hy “kom vir Botha”.

Selfoondreigemente

Van der Merwe het aan die advokaat gesê dat sy al hierdie boodskappe as dreigemente van Pretorius gesien het, wat aandui dat hy beplan het om Botha aan te val. Verder het Van der Merwe getuig een van die boodskappe van Pretorius aan Botha op 2 September lui, “Ek sal jou raakloop papa.”

Van der Merwe het erken dat hierdie boodskap daarop dui dat Pretorius van plan was om met Botha af te reken. Al die boodskappe is na Van Der Merwe se foon gestuur.

Volgens Van der Merwe se getuienis het Pretorius vir haar ’n ligging na haar selfoon gestuur en gesê waar hy was. Hulle het die boodskap geïgnoreer. 

Wernich Botha word daarvan beskuldig dat hy Hilton Pretorius (32) vermoor het. Foto: Charne van der Merwe

Pretorius het daarna vir Van der Merwe gebel en tydens die gesprek het Botha vir hom gesê hulle is op pad na die kroeg en hy wil nie baklei nie. Pretorius was op daardie stadium by Pieter Joubert se huis.

Sy het getuig dat sy met Joubert op die telefoon gepraat het voordat hulle op pad was na die kroeg toe. “Ek het vir hom gesê dat hy nie vir Pretorius na die kroeg moet bring nie, want dit gaan probleme veroorsaak.” 

Sy het getuig dat sy geweet het Pretorius se bedoeling was om Botha te kom aanval. OFM Nuus het vroeër berig Van der Merwe en Botha was by die kroeg besig om drankies en shooters te bestel, maar toe sy Botha soek, was hy nie meer agter haar nie.

Natasha van der Merwe kom by die hof aan. Foto: Charne van der Merwe

Van der Merwe het verder getuig toe sy uit die kroeg stap, het sy Botha by sy motor gesien met sy rug na Pretorius toe gedraai. “Toe ek vir Hilton sien, het ek vir hom geskree om weg te gaan, maar hy het my geïgnoreer en was op pad na Wernich. Ek het geweet hy is op pad om hom aan te val.”

Volgens haar was Joubert kort op sy hakke. In reaksie op ’n vraag van die verdediging is Van der Merwe gevra of sy glo die rede waarom Botha vir Pretorius geslaan het toe hulle naby genoeg aan mekaar was, was omdat hy gedink het dit was “twee teen een”, dat hy “outnumbered” was deur Joubert en Pretorius.

Van der Merwe het gesê sy glo Botha het uit selfverdediging opgetree toe Pretorius en Joubert na hom toe gekom het. Sy glo die vuishou wat Botha vir Pretorius toegedien het, was ’n redelike reaksie. 

PW Roos (links) by die hof. Hy het probeer intree in die geveg en is ook deur Botha geslaan. Foto: Charne van der Merwe

“Hy het twee opsies gehad: of hy gaan deur Joubert en Pretorius aangerand word, of hy moet Pretorius slaan om homself te verdedig.”

Van der Merwe het bygevoeg toe Botha Pretorius geslaan het, hy geen bedoeling gehad het om Joubert ook te slaan nie. Voorts het Van der Merwe getuig dat as gevolg van Botha se werk as ’n mynbestuurder by ’n maatskappy in Somalië, hy opgelei is om mediese noodgevalle te hanteer.

“Toe Wernich Hilton slaan, het hy onmiddellik aksie geneem om hom te help. Hy het geweet hoe om te help, en hy het Hilton op sy sy gedraai sodat hy nie in sy eie bloed moet verstik nie. Hy wou hom help.”

LEES OOK: Klerksdorp-aanranding: Verdagte pleit onskuldig, verhoor begin in 2025 

Sy het ook getuig dat Botha die hele tyd seker gemaak het dat Pretorius reg is totdat die ambulans daar aankom het. 

Van der Merwe het voorts getuig nadat Pretorius na die hospitaal geneem is, het Botha die ambulans gevolg om seker te maak hy kry die nodige behandeling.

“Hilton het nie ’n mediese fonds gehad nie en daar was ’n bekommernisse dat hy na ’n staatshospitaal oorgeplaas sou word. Wernich wou seker maak hy kry die regte behandeling en vir die hospitaalpersoneel gesê hy het R20 000 in sy bankrekening wat hy onmiddellik kon neersit om Pretorius se behandeling te verseker.”

Boodskap op Facebook

Die verdediging het vir Natasha gevra of sy bewus is van Pretorius se boodskap op Facebook waarin hy gesê het:

“Thanks for a kak birthday weekend
I hope the worst for you
Hope you hurt each other and feel this pain”

Die ondervraging duur voort.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.