On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Laeveld-olifanteienaar se saak uitgestel vir beslissing

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:00 Mon, 12 May 2025

Laeveld-olifanteienaar se saak uitgestel vir beslissing | News Article
Sonell Joubert. Foto verskaf

Die moordbeskuldigde en eienaar van Tswale Educational Elephant Interactionsse saak is tot 26 Junie uitgestel om ’n senior staatsaanklaer tyd te gun om die saak te hersien en ’n besluit te neem.

Sonell Joubert (45) het Donderdag (8/5) in die Tonga-landdroshof in Mpumalanga verskyn op aanklagte van moord met voorbedagte rade en ’n bylae-ses-oortreding, sê Monica Nyuswa, NVG-woordvoerder.

Die ondersoek, tesame met die nadoodse ondersoek, is reeds afgehandel. OFM Nuus het voorheen berig Joubert se borgtogaansoek is in Februarie van die hand gewys. Sy het onder meer ’n verkeerde adres verskaf en kommer het bestaan dat sy met staatsgetuies sou inmeng.

Olifant-eienaar kry nuwe regspan, het glo nuwe feite vir borgtogaansoek | News Article

Sonell Joubert word aangekla van die beweerde moord op Jurgens Nel. Foto: Facebook

Joubert word daarvan beskuldig dat sy Jurgens Nel (45) vroeër vanjaar (2/2) na bewering meermale in die bors en maag gesteek het.

Volgens Nyuswa het Joubert in haar beëdigde verklaring gesê dat sy uit selfverdediging opgetree het én beweer dat sy ’n mes gebruik het nadat Nel haar glo aangeval het. Sy het ’n beskermingsbevel teen hom gekry enkele dae voor sy dood, wat hy na bewering oortree het.

Tydens ’n vorige hofverskyning het Joubert versoek die saak moet as ’n bylae-vyf-oortreding geregistreer word. Sy het gesê sy is bereid om haar paspoort in te lewer.

Sonell Joubert (45). Foto: Facebook/Tswale Educational Elephant Interactions

Sy het aan die hof gesê dat sy slegs R5 000 vir borgtog kon bekostig weens die geldelike las om ’n nuwe regsverteenwoordiger aan te stel en die koste van traumaberading. As borgtog toegestaan word, het sy gesê, sou sy die Life360-app installeer sodat die ondersoekbeampte haar bewegings deurentyd kon dophou.

Op 3 Februarie het die polisie na die plaas Lowhills gegaan om Nel in hegtenis te neem vir die beweerde oortreding van die beskermingsbevel. Beamptes het egter in sy kamer op sy liggaam afgekom waar hy verskeie kere gesteek is.

Paramedici het hom op die toneel dood verklaar. Nel het na bewering reeds die vorige dag gesterf. Joubert is later dieselfde dag in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.