On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Twee Vrystaters binnekort in hof weens veediefstal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:26 Mon, 12 May 2025

Twee Vrystaters binnekort in hof weens veediefstal | News Article
Die vermoedelik gesteelde vee. Foto verskaf

Twee Vrystaatse verdagtes sal binnekort in die Welkomse landdroshof verskyn vir beweerde veediefstal van byna R50 000.

Die verdagtes (28 en 45) is Sondag (11/5) in hegtenis geneem nadat hulle in besit van vermoedelik gesteelde beeste betrap is, sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder.

Luidens berigte het beamptes van Bultfontein se veediefstaleenheid en die honde-eenheid inligting oor gesteelde beeste ontvang en opgevolg. Dit het hulle na ’n beeskraal in Riebeeckstad gelei. 

Die kalwers is byna R50 000 werd. Foto verskaf

Thabana sê met hul aankoms het beamptes vyf kalwers in ’n beeshok ontdek. Die twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle nie ’n geldige verklaring vir die beeste in hul besit kon gee nie.

Die polisie het vyf kalwers van R45 000 en ’n brandyster van die verdagtes teruggevind.

Volgens Thabana is die vermoedelik gesteelde beeste positief uitgeken deur die regmatige eienaar nadat sewe kalwers na bewering op Saterdag (10/5) van ’n plaas by Winburg gesteel is.

Aanmeldingstelsel vir veediefstal

Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) en ander landbouorganisasies werk saam met die polisie en Agri Ops om veediefstal te bekamp deur middel van ’n nasionale aanmeldingstelsel vir veediefstal.

Die Earth Ranger-platform hanteer en verwerk inligting wat verskaf word om te verseker dat alle besonderhede van deelnemende boere vertroulik gehou word in ooreenstemming met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, sê dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die RPO.

Hoewel die platform sonder die polisie bedryf word, werk die RPO nou saam met die polisie vir die uitvoering daarvan.

Hoe werk die KI-stelsel?

Agt stappe word tydens aanmelding uitgevoer, waarvan die eerste vyf verpligtend is:

  • Verskaf jou naam en kontakbesonderhede;
  • Dui aan in watter provinsie die voorval plaasgevind het;
  • Verstrek die distrik se naam;
  • Meld dit by jou naaste polisiekantoor aan;
  • Beskryf die tipe veediefstal en gee ook ander belangrike besonderhede;
  • Die volgende drie stappe is die GPS-ligging waar die voorval plaasgevind het; 
  • Spesifieke besonderhede oor hoe die diefstal uitgevoer is; en 
  • Enige ander tersaaklike inligting.

Die RPO beklemtoon dat hierdie stelsel nie net help om veediefstal vinniger aan te meld nie, dit skep ook ’n waardevolle databasis vir wetstoepassingsagentskappe. Die doel is om die polisie te ondersteun in hul ondersoeke en om misdaadtendense beter te verstaan.

Boere en inwoners kan enige veediefstal of verwante misdaad onmiddellik per WhatsApp by 071 5152011 aanmeld.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.