Central SA
AfriForum nader Sanral ná munisipaliteit pad verniel voor NAMPO─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:07 Wed, 14 May 2025

’n Vrystaatse munisipaliteit is by die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) verkla weens die swak toestand van plaaslike paaie, veral in die lig van die swaar verkeer tydens die NAMPO.
Die AfriForum-tak op Parys vra Sanral moet dringend ingryp nadat Ngwathe-munisipaliteit toegelaat het dat paaie op en om Parys – waarvan baie onder Sanral se jurisdiksie val – verval, sê Alta Pretorius, AfriForum se Mooirivier-distrikkoördineerder.
Hierdie situasie ontstaan tydens die gewilde NAMPO Oesdag, wat van 13 tot 16 Mei gehou word, wanneer die paaie ’n beduidende toename in verkeer sien. Een van die betrokke paaie, wat deur Sanral bestuur word, maar deur die munisipaliteit verwaarloos word, is geleë op die R59 naby die Rivershed-winkelsentrum.
NAMPO Park. Foto: farmersreviewafrica
Volgens Pretorius het die munisipaliteit ’n sloot oorkant die pad gegrawe om ’n waterlek aan te spreek. Die herstelwerk is egter gestaak – na bewering weens ’n gebrek aan geskikte toerusting.
“Die munisipaliteit, wat Sanral moes in kennis gestel het voordat hulle met die werk begin het, het dit nie gedoen nie. Hulle het toe die sloot met los grond gevul sonder om dit behoorlik te kompakteer.
“Dit hou nou ’n ernstige risiko in vir motoriste, wat gedwing word om slegs aan een kant van die pad te ry om die gevaar te vermy.”
‘Toestand van die pad sal aanhou versleg as dit so gelaat word’
Pretorius sê die munisipaliteit is nie gemagtig om enige werk aan paaie onder Sanral se beheer uit te voer sonder om eers die agentskap in kennis te stel nie. “Boonop het die munisipaliteit geen poging aangewend om Sanral se hulp te versoek om die pad intussen veilig of begaanbaar te maak nie.”
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, het bevestig dat Sanral se Kroonstad-kantoor heeltemal onbewus was van die situasie op die R59 totdat AfriForum dit onder hul aandag gebring het.
Hy sê ná hul inspeksie het Sanral saamgestem dat die grond nie gekompakteer is nie, en gewaarsku dat die toestand van die pad sal aanhou versleg as dit so gelaat word. Sanral het onderneem om moontlike oplossings te ondersoek.
‘Parys het beslis nie meer slaggate nodig nie’
AfriForum het sedertdien ’n dringende brief aan Ngwathe gerig waarin volle samewerking met Sanral versoek word om te verseker dat behoorlike herstelwerk aan hierdie stuk pad uitgevoer word. “(Ngwathe) het herhaaldelik sy onvermoë getoon om effektief te kommunikeer, of om in vennootskap te werk met organisasies wat daarna streef om toestande in Parys te verbeter,” sê Pretorius gesê.
“AfriForum doen dus ’n beroep op die munisipaliteit om van Sanral se kundigheid en hulpbronne gebruik te maak sodat sleutelpaaie soos hierdie een van die begin af korrek herstel word.”
“As gevolg van die verslegtende toestand van die paaie in en om Parys, het inwoners toenemend hul toevlug geneem tot die herstel van wat hulle self kan – ’n ongelooflik duur onderneming. Parys het beslis nie meer slaggate nodig nie.
Hofaansoek in hooggeregshof ingedien
“Dit is tyd dat die munisipaliteit aanspreeklik gehou word en behoorlike, blywende herstelwerk uitvoer,” voeg Burger by. “AfriForum is reeds besig om die munisipaliteit aanspreeklik te hou vir sy voortdurende versuim om dienste te lewer.
In Desember verlede jaar het die burgerregte-organisasie ’n hofaansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien om ingryping ingevolge Artikel 139 van die Grondwet te versoek.”
Burger sê kragtens dié artikel kan die provinsiale regering ’n mislukte munisipaliteit onder administrasie plaas. AfriForum wag tans op ’n uitspraak in die saak.
OFM Nuus het die munisipaliteit om kommentaar genader.
OFM Nuus mvh