On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vyf Vrystaters binnekort in hof vir koperdiefstal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:12 Wed, 14 May 2025

Vyf Vrystaters binnekort in hof vir koperdiefstal | News Article
Van die koper wat gevind is. Foto verskaf

Vyf verdagtes van die Vrystaat sal Donderdag (15/05) in die Sasolburgse landdroshof voorkom vir die beweerde besit van koperkabel van meer as R20 000.

Die verdagtes (20 tot 59) is Dinsdag deur beamptes van die Fezile Dabi-distrikspadpatrollie in hegtenis geneem, sê sers. Josephine Rani, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Omstreeks 01:00 het die polisie inligting ontvang oor ’n verdagte bakkie wat op die R57 na Sasolburg gery het. Beamptes het die voertuig by die kruising van die R57 en R82 onderskep.” Volgens Rani het die polisie met die deursoeking van die voertuig op 120,5 kg koperkabel afgekom met ’n geraamde waarde van R20 980. 

Die polisie het met die deursoeking van die voertuig op 120,5 kg koperkabel afgekom. Foto verskaf

“Die verdagtes is summier in hegtenis geneem en beslag is op die koperkabel gelê.”

In ’n afsonderlike saak is twee Bloemfonteiners, Tomo Maema (50) en Molewa Ramoiloa (39), onlangs elk tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis vir koperdiefstal en skade aan Transnet-infrastruktuur, het ao. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê.

Die helfte van hul vonnisse is vir vyf jaar en ses maande elk opgeskort, benewens aanklagte wat verband hou met oortredings van die Immigrasiewet. Maema en Ramoiloa is op 24 Julie deur private sekuriteitspersoneel in hegtenis geneem terwyl hulle seinkabels van Transnet verwyder het. 

Foto verskaf

Daar is bevestig dat albei onwettige immigrante is.

Soos koperpryse wêreldwyd styg, kan misdaadsindikate hul diefstalaktiwiteite uitbrei, wat lei tot verdere ekonomiese verliese, berig BusinessTech. Koperpryse het verlede jaar rekordhoogtes bereik as gevolg van toenemende vraag en ’n verwagte tekort.

Koper is van kardinale belang vir nywerhede soos telekommunikasie, kragopwekking en konstruksie. Dit word gebruik in breëbandnetwerke, transformators en kragopwekkers.

Herwinning bly onvoldoende

Die vraag na koper neem ook toe as gevolg van die groei van hernubare energie. Volgens die Internasionale Energieagentskap (IEA) vereis elke MW wind- en sonkrag tussen 3 en 5 t koper.

Daar is ’n verwagte tekort aan koper en die opkoms van elektriese voertuie dryf ook die vraag aan, aangesien elke voertuig sowat 83 kg koper gebruik, vergeleke met slegs 23 kg in tradisionele motors. Hoewel herwinning in ongeveer 35% van die kopervraag voorsien, bly dit onvoldoende.

Die IEA waarsku teen 2030 sal aan net 80% van die wêreldwye kopervraag voldoen word, wat pryse selfs verder kan laat styg soos nywerhede uitbrei en op meer volhoubare energieoplossings aandring.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.