Central SA
Vrystaatse premier veroordeel wraakmoord op twee van Reitz─── ZENANDE MPAME 11:15 Wed, 14 May 2025

Die gemeenskap van Reitz word gemaan om nie die reg in eie hande te neem nie ná die dood van twee broers in wat vermoedelik ’n geval van wraakoptrede was.
Inwoners van die nedersetting Petsana het glo ingegryp ná ’n vermoede dat iemand die huis aan die brand gesteek het waarin ’n seuntjie van 18 maande en ’n sewe maande oue baba gesterf het.
Blykbaar het die gemeenskap Siphamandla Miya daarvan verdink dat hy die plakkershut aan die brand gesteek het. Hulle het in groot getalle na hom begin soek.
By sy huis het hulle sy tienerbroer aangetref, hom vir Siphamandla aangesien en aangeval – wat tot sy dood gelei het. Toe hulle agterkom dit was nie hy nie, het hulle verder gaan soek.
Toe hulle Siphamandla eindelik opspoor, het hulle hom lewend aan die brand gesteek.
“Die dood van die twee kinders het ’n ketting van gebeure aan die gang gesit wat uiteindelik gelei het tot die dood van twee broers, Siphamandla en Mpiyakhe Miya,” sê Nthabiseng Diphoko, die Vrystaatse premier se kommunikasiebeampte.
‘Ouers was glo aan die drink ten tyde van die hutbrand’
“Ons doen ’n beroep op ons mense om nie eie reg te gebruik nie. Laat asseblief die polisie hul werk doen. Ongeag hoe kwaad mense was, dit was verkeerd om so op te tree, want nou het nog twee mense hul lewe verloor.”
Die Mngomezulu-babas se ouers was glo aan die drink ten tyde van die hutbrand. Amohelang Mngomezulu (18 maande) en Bokamoso (sewe maande) is op Dinsdag (13/5) begrawe.
Hulle het op Saterdag 3 Mei omgekom toe hul ouers, Palesa Mngomezulu (23) en Ben Nhlapho (25), die kinders alleen gelos het en gaan kuier het. Die paartjie is glo deur ’n inwoner laat weet hul hut is aan die brand.
Toe hulle terugkeer, was die polisie en gemeenskapslede reeds op die toneel. Die kinders het onherkenbaar verbrand.
“Die paartjie is in hegtenis geneem op ’n aanklag van kinderverwaarlosing, en die polisie ondersoek ook ’n geregtelike doodsondersoek,” sê Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Die forensiese span ondersoek steeds die oorsaak van die brand.”
Jabu Mbalula, LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, waarsku ook teen wraakoptrede en vra mense moet die regstelsel sy gang laat gaan.