Central SA
Joburg-vlug na Bloemfontein herlei ná chaos in die lug─── ZENANDE MPAME 07:30 Fri, 16 May 2025

’n Passasiers se woede-uitbarsting in die lug het daartoe gelei dat ’n FlySafair-vlug van Johannesburg na Kaapstad na Bloemfontein moes afwyk.
Die passasier kan moontlik strafregtelike vervolg word nadat hy Donderdagmiddag (15/5) glo oor ’n bottel water en verkeerde kleingeld ’n uitbarsting gehad het en chaos in die kajuit veroorsaak het.
Die onbeheerste passasier is deur ’n paar passasiers met sekuriteitsagtergrond en die vlugpersoneel in bedwang gebring. “Ons waardeer die geduld van die passasiers en die bemanning met die besluit om na Bloemfontein af te wyk,” sê Kirby Gordon, bemarkingshoof van FlySafair.
“Die passasier is beslis op ons geenvlieglys geplaas. Ons is ook besig om die passasier te faktureer vir die koste van die omleiding. Dit word volgens ons bepalings en voorwaardes hanteer.”
“Dit was belangrik dat ons die hele protokol tot op die letter nakom, en dat die saak hanteer word soos dit moet. Indien ’n persoon ’n herleiding van hierdie aard veroorsaak, is hy aanspreeklik vir die koste wat daaruit spruit.”
Volgens FlySafair se brosjure oor Bepalings & Voorwaardes van Bespreking en Vervoer, bepaal die gedeelte oor klantgedrag indien die lugredery enige onkoste of boetes aangaan as gevolg van jou optrede wat teen die wet of burgerlugvaartregulasies is, sal jy vir daardie koste aanspreeklik gehou word.
Aanspreeklikheid
Eweneens, indien die lugredery besluit om ’n vlug te herlei of te vertraag as gevolg van jou gedrag, met die doel om jou van boord te verwyder, is jy aanspreeklik vir alle koste wat die lugredery weens daardie aksie aangaan.
Verder, indien jy enige veiligheidsreëls of wette oortree, personeel dreig, óf FlySafair se naam skade aandoen, kan die lugredery jou op ’n lys van verbode passasiers plaas, en jy sal nie weer met FlySafair mag vlieg nie.
“Daar is ook moontlike strafregtelike gevolge wat deur die betrokke owerhede hanteer sal word,” sê Gordon.